|
Goewermentskennisgewing No. R.997
|
11 Julie 2003
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende Beroepsidentifikasietoestelle en Dragkode vir
Verpleegkundiges en Vroedvroue
Die Minister van Gesondheid is voornemens om kragtens artikel 45(1) van die Wet op
Verpleging, 1978 (Wet No. 50 van 1978), op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Raad op
Verpleging, die regulasies in die Bylae uit te vaardig.
Belanghebbendes word versoek om binne 'n tydperk van twee maande na publikasie van hierdie kennisgewing enige gemotiveerde kommentaar of
vertoë oor die voorgestelde regulasies in te dien by die Departement van Gesondheid
(vir die aandag van die Direktoraat: Mensehulpbronontwikkeling), Privaatsak X828, Pretoria, 0001.
BYLAE
1. Woordomskrywings
In hierdie regulasies beteken "die Wet" die Wet op Verpleging, 1978 (Wet No. 50 van 1978), en het 'n uitdrukking waaraan daar in die Wet 'n betekenis geheg is, daardie betekenis, en, tensy uit die samehang anders blyk, beteken -
"beroepsidentifikasietoestel" 'n kaart of 'n
identifikasiekenteken wat deur die raad uitgereik word en wat registrasie om as geregistreerde praktisyn te praktiseer
aandui;
"beskermende klere" klere wat gedra word deur 'n geregistreerde praktisyn wat pas by 'n kliniese gesondheidsomgewing ten einde gesondheidsorggebruikers en die geregistreerde praktisyn te
beskerm;
"dragkode" 'n stel reëls wat betrekking het op die kleredrag van 'n geregistreerde praktisyn in 'n kliniese
gesondheidsomgewing;
"geregistreerde praktisyn" 'n persoon wie kragtens die Wet gemagtig is om as 'n verplegkundige, vroedvrou of student te
praktiseer.
2. Dragkode, beskermende klere en beroepsidentifikasietoestelle
(1) 'n Geregistreerde praktisyn moet beskermende klere dra en by 'n dragkode bly terwyl hy of sy in 'n kliniese gesondheidsomgewing
praktiseer.
(2) 'n Dragkode wat die beeld van die verpleegberoep hoog hou en beskermende klere moet deur die werkgewer bepaal word met inagneming van -
(a) die veiligheidsbehoeftes van die betrokke gesondheidsorggebruiker en geregistreerde praktisyn; en
(b) die aard van die kliniese gesondheidsomgewing.
(3) Die beroepsidentifikasietoestelle bedoel in subregulasies (5) en (6) moet -
(a) 'n ontwerp wees soos deur die raad bepaal; en
(b) deur die raad aan 'n geregistreerde praktisyn toegeken word.
(4) Minstens een van die beroepsidentifikasietoestelle bedoel in subregulasies (5) en (6) moet vir 'n gesondheidsorggebruiker sigbaar wees aan 'n geregistreerde praktisyn terwyl hy of sy in 'n kliniese gesondheidsomgewing
praktiseer.
(5) 'n Kaart moet die volgende inligting insluit:
(a) Die heraldiese embleem van die raad;
(b) volle name en van van geregistreerde praktisyn;
(c) identiteitsnommer;
(d) verwysingsnommer van die raad;
(e) geregistreerde basiese beroepshoedanigheid naamlik "geregistreerde verpleegkundige", "geregistreerde vroedvrou", "ingeskrewe verpleegkundige", "ingeskrewe vroedvrou" of
"ingeskrewe verpleeghulp";
(f) onlangse foto van geregistreerde praktisyn, wat elke 10 jaar vervang moet word;
(g) geregistreerde kwalifikasie(s); en
(h) amptelike spesiale bepalings.
(6) 'n Identifikasiekenteken moet die volgende inligting
insluit:
(a) Die heraldiese embleem van die raad;
(b) volle name en van van geregistreerde praktisyn;
(c) geregistreerde basiese beroepshoedanigheid naamlik "geregistreerde verpleegkundige", "geregistreerde vroedvrou", "ingeskrewe verpleegkundige", "ingeskrewe vroedvrou" of "ingeskrewe verpleeghulp"; en
(d) verwysingsnommer van die raad.
(7) Die raad is die alleenvervaardiger, -verkoper, -verskaffer en -verspreider van
beroepsidentifiekasietoestelle.
3. Misdrywe
'n Persoon wat -
(a) nie geregistreer of ingeskryf is ingevolge die Wet nie en 'n beroepsidentifikasietoestel dra of
gebruik;
(b) 'n beroepsidentifikasietoestel wat aan 'n ander geregistreerde praktisyn uitgereik is, dra, gebruik of
leen;
(c) 'n beroepsidentifikasietoestel vervaardig, verkoop of
verskaf;
(d) 'n ander beroepsidentifikasietoestel as die kaart bedoel in regulasie 2(5) of die identifikasiekenteken bedoel in regulasie 2(6) dra, gebruik, vervaardig, verkoop of verskaf;
(e) as 'n werkgewer willens en wetens 'n geregistreerde praktisyn toelaat om verpleging te beoefen en hierdie regulasies sodoende
skend,
is skuldig aan 'n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete van hoogstens R100 of gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twaalf maande of sodanige boete sowel as sodanige
gevangenisstraf.
4. Algemeen
(1) 'n Geregistreerde praktisyn moet binne 'n tydperk van twee jaar na die afkondiging van hierdie regulasies, die beroepsidentifikasietoestelle van die raad
verkry.
(2) Gedeurende die twee jaar bedoel in subregulasie (1), kan 'n geregistreerde praktisyn die ou of nuwe beroepsidentifikasietoestelle
dra.
(3) 'n Geregistreerde praktisyn wat nie die beroepsidentifikasietoestelle binne die tweejaartydperk in subregulasie (1) bedoel, bekom nie en na twee jaar nog steeds die ou beroepsidentifikasietoestelle dra, is skuldig aan 'n misdryf en by skuldbevinding stafbaar met 'n boete van hoogstens R100 of skorsing vir 'n tydperk van hoogstens drie maande van die beoefening van sy of haar beroep, of met sodanige boete sowel as sodanige
skorsing.
5. Herroeping
Die volgende regulasies word hierby herroep:
(a) Die Regulasies gepubliseer by Goewermentskennisgewing No. R.1201 van 31 Julie 1970, soos gewysig by Goewermentskennisgewings Nos. R.1378 van 13 Augustus 1971, R.1857 van 8 Oktober 1976,
R.2359 van 26 Oktober 1984 en R.280 van 15 Februarie 1995;
(b) die Regulasies gepubliseer by Goewermentskennisgewing No. R.1740 van 29 September 1972, soos gewysig by Goewermentskennisgewings Nos. R.1858 van 8 Oktober 1976, R.2361 van 26 Oktober 1984 en R.278 van 15 Februarie 1995; en
(c) die Regulasies gepubliseer by Goewermentskennisgewing No. R.1747 van 29 September 1972, soos gewysig by Goewermentskennisgewings
Nos. R.1859 van 8 Oktober 1976, R.2360 van 26 Oktober 1984 en R.279 van 15 Februarie 1995.
DR M E TSHABALALA-MSIMANG
Minister van Gesondheid

Hierdie Web weergawe van hierdie Goewermentskennisgewing © S A Raad op
Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
kennisgewing maak. U mag vrylik uit hierdie kennisgewing kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie kennisgewing verkoop nie.