|
Goewermentskennisgewing No. R. 683
|
14 April 1989
|
|
soos gewysig deur
|
|
|
No. R. 8
|
8 Januarie 1993
|
|
No. R. 63
|
17 Januarie 1997
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende die Minimum Vereistes vir 'n Oorbruggingskursus vir Ingeskrewe Verpleegkundiges wat lei tot
Registrasie as 'n
Algemene Verpleegkundige of 'n Psigiatriese Verpleegkundige
Die Minister
van Nasionale Gesondheid en Bevolkingsontwikkeling het, op aanbeveling van die
Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, kragtens artikel 45 (1) van die Wet op
Verpleging, 1978 (Wet No. 50 van 1978), die regulasies in die Bylae hiervan
uiteengesit, uitgevaardig.
BYLAE
Woordomskrywing
1. In
hierdie regulasies beteken "die Wet" die Wet op Verpleging,
1978 (Wet No. 50 van 1978), en het enige uitdrukking waaraan 'n betekenis in die
Wet geheg is, daardie betekenis en, tensy uit die samehang anders blyk,
beteken-
"akademiese jaar" 'n tydperk van minstens
44 weke in enige kalenderjaar.
Voorwaardes vir registrasie
2. 'n
Ingeskrewe verpleegkundige word kragtens artikel 16 van die Wet as 'n algemene
of psigiatriese verpleegkundige, na gelang van die geval, geregistreer
indien-
(a) hy of sy aan 'n goedgekeurde verpleegskool
onderrig en opleiding, bedoel in hierdie regulasies, ontvang het;
(b) hy of sy as student geregistreer was kragtens die regulasies betreffende
registers vir studente;
(c) hy of sy die kursus voorgeskryf by
regulasie 7(2) suksesvol voltooi het en aan die programdoelstellings
uiteengesit in regulasie 7(1) voldoen het.
Voorwaardes vir die
goedkeuring van verpleegskole
3. (1) 'n Verpleegskool word goedgekeur
indien-
(a) die organisatoriese struktuur en die fasiliteite
vir die aanbieding van die onderrigprogram volgens die mening van die raad
bevredigend is;
(b) die onderrigprogram volgens die mening van die
raad bevredigend is;
(c) die persoon in beheer van die verpleegskool
'n geregistreerde verpleegkundige is teenoor wie se naam 'n addisionele
kwalifikasie in verplegingsonderwys en 'n addisionele kwalifikasie in
verplegingsadministrasie by die raad geregistreer is;
(d) die
fasiliteite vir kliniese praktika volgens die mening van die raad bevredigend
is.
(2) Ondanks die bepalings van subregulasie (1), kan die raad 'n
verpleegskool goedkeur op die voorwaardes wat die raad bepaal.
Toelating tot die kursus
4. (1) (a) 'n Ingeskrewe verpleegkundige moet by die
persoon in beheer van 'n verpleegskool aansoek doen om toelating tot die kursus
bedoel in hierdie regulasies.
(b) Sodanige aansoek moet vergesel gaan
van-
(i) bewys van huidige inskrywing as verpleegkundige;
(ii) 'n standerd 10- of gelykwaardige sertifikaat, tensy die raad
anders bepaal.
(2) 'n Inskrywing as verpleegkundige moet vir die duur van die
kursus tot en met die datum van publikasie van die uitslae van die eindeksamen
van krag bly, by gebreke waarvan die duur van die kursus verleng moet word met
'n tydperk gelykstaande met die tydperk waartydens sodanige inskrywing nie meer
van krag was nie.
Registrasie, terugplasing en staking en
voltooiing van die kursus
5. Ingevolge die regulasies betreffende registers vir
studente bedoel in regulasie 2(b)-
(a) moet 'n student om
registrasie of om terugplasing op die register aansoek doen;
(b) moet
die persoon in beheer van 'n verpleegskool die raad in kennis stel indien 'n
student om enige rede insluitende 'n oorplasing na 'n ander verpleegskool die
kursus voor voltooiing staak;
(c) moet die persoon in beheer van 'n
verpleegskool die raad in kennis stel wanneer 'n student die kursus voltooi en
'n rekord van die teoretiese en kliniese onderrig wat die student deurloop het,
by die raad indien.
Duur van die kursus
6. (1) (a) Die duur van die
kursus is twee akademiese jare.
(b) Afwesigheidsverlof wat kragtens
subregulasie (2) toegestaan word en siekteverlof wat kragtens subregulasie (3)(a) toegestaan word, is by hierdie tydperk van twee akademiese jare ingesluit,
maar addisionele siekteverlof wat kragtens subregulasie (3)(b) toegestaan word,
is nie aldus ingesluit nie.
(2) Hoogstens 60 dae afwesigheidsverlof kan aan 'n
student toegestaan word op sodanige tye gedurende die voorgeskrewe kursus wat
die persoon in beheer van die verpleegskool besluit.
(3) (a) Siekteverlof
bereken teen 'n koers van 12 dae vir elke akademiese jaar van die kursus, en van
'n proporsionele aantal dae vir 'n korter tydperk, kan aan 'n student toegestaan
word.
(b) Siekteverlof bo en behalwe die siekteverlof bedoel in
paragraaf (a) kan toegestaan word op voorwaarde dat sodanige addisionele
siekteverlof ingewerk word.
(4) (a) Met die kursus word van nuuts af begin
indien 'n onderbreking voor die voltooiing van ses maande van die kursus
voorkom, tensy die raad anders bepaal.
(b) Geen erkenning vir vorige
onderrig vir enige akademiese jaar van die kursus word verleen nie indien daar
meer as een onderbreking in daardie jaar voorkom, tensy die raad anders bepaal.
(c) Die tydperk van enige onderbreking moet ingewerk word, sodat die
voorgeskrewe tydperk van die kursus voltooi word.
(d) Vir doeleindes
van hierdie regulasie beteken die uitdrukking "onderbreking"-
(i) enige afwesigheid
wat nie by hierdie regulasie voorgeskryf word nie; of
(ii) 'n
oorplasing van een verpleegskool na 'n ander.
Die leergang
7. (1) Programdoelstellings. - Die leergang moet voorsiening maak vir die persoonlike en
professionele ontwikkeling van die student sodat hy by voltooiing van die
kursus-
(a) respek toon vir die waardigheid en uniekheid van
die mens in sy sosiaal-kulturele en religieuse verband en hom as 'n
psigologiese, fisiese en sosiale wese binne hierdie verband benader en verstaan;
(b) vaardig is in die diagnosering van die mens se
gesondheidsprobleme, die beplanning en implementering van terapeutiese optrede
en verpleegsorg vir die individu op enige punt op die gesondheid/
siektekontinuum
in alle stadia van die lewensiklus, asook sterwensbegeleiding, en in die
evaluering daarvan;
(c) in staat is om interaksie met pasiënte op so
'n wyse te rig en te beheer dat simpatieke en empatiese interaksie plaasvind;
(d) in staat is om die etiese en morele kodes van die verpleegberoep
te handhaaf en binne die voorskrifte van die tersaaklike wette te praktiseer;
(e) in staat is om harmonieus binne die verpleegkundige en
multidissiplinêre span saam te werk volgens die beginsels van
interafhanklikheid en medewerking vir die bereiking van 'n gemeenskaplike doel,
en om pasiënte toepaslik te verwys;
(f) in staat is om sy eie
praktyk volgens eie kennis en vaardigheid af te baken, dit onafhanklik te
beoefen en verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar;
(g) in staat is om
sy eie praktyk voortdurend te evalueer en verantwoordelikheid vir voortgesette
professionele en persoonlike ontwikkeling te aanvaar;
(h) 'n
ondersoekende en wetenskaplike benadering van praktykprobleme openbaar en bereid
is om verandering te inisieer en te aanvaar;
(i) in staat is om die
beginsels van bestuur in 'n verplegingseenheid toe te pas;
(j) in
staat is om kliniese onderrig binne die verplegingseenheid te gee;
(k) oor die kognitiewe, psigomotoriese en effektiewe vaardighede beskik wat as
grondslag moet dien vir doeltreffende praktyk en vir voortgesette onderwys.
(2) Die kurus bestaan uit die volgende vakke:
(a) Toegepaste Sosiale
Wetenskappe (insluitende Kommunikasievaardighede en Geestesgesondheid), waarvan
die duur oor twee akademiese jare versprei word;
(b) Etos en
Professionele Praktyk (insluitende Saalbestuur en Kliniese Onderrig), waarvan
die duur oor twee akademiese jare versprei word;
(c) Geïntegreerde
Algemene of Psigiatriese Verpleegkunde, na gelang van watter registrasie die
student verlang, waarvan die duur minstens twee akademiese jare is.
Bevorderings
8. Om tot die tweede akademiese jaar bevorder te word, moet 'n
student-
(a) die eerste akademiese jaar voltooi; en
(b) in die eksamen vir die eerste akademiese jaar slaag.
Eksamens
9. (1) Die eksamens word afgeneem ooreenkomstig die regulasies betreffende
eksamens van die raad.
(2) Die kursus bedoel in hierdie regulasies word vir die
doeleindes van die regulasies bedoel in subregulasie (1) 'n basiese kursus
genoem.
(3) Om tot die eksamen vir die eerste akademiese jaar toegelaat te word,
moet die kandidaat-
(a) teen die einde van die maand waarin
die eksamen afgeneem word, minstens 40 weke van die eerste akademiese jaar
voltooi;
(b) minstens 45% behaal in 'n stelsel van deurlopende
evaluering deur die verpleegskool van die kliniese en teoretiese aspekte van
algemene verpleegkunde of psigiatriese verpleegkunde; en
(c) minstens
40% behaal in 'n eksamen van die verpleegskool in die vakke Etos en
Professionele Praktyk.
(4) Om tot die eindeksamen toegelaat te word, moet die
kandidaat-
(a) teen die einde van die maand waarin die
eksamen afgeneem word, die voorgeskrewe tydperk vir die kursus voltooi;
(b) minstens 45% behaal in 'n stelsel van deurlopende evaluering deur die
verpleegskool van die kliniese en teoretiese aspekte van algemene verpleegkunde
of psigiatriese verpleegkunde; en
(c) teen die datum van die eksamen
aan die bepalings van regulasie 7 voldoen.
(5) 'n Kandidaat wat as gevolg van
addisionele siekteverlof bedoel in regulasie 6(3)(b) wat ingewerk moet word,
nie aan die vereistes vir toelating tot 'n eksamen voldoen nie kan deur die raad
tot die eksamen toegelaat word indien-
(a) die persoon in
beheer van die verpleegskool nie later nie as die voorgeskrewe sluitingsdatum 'n
skriftelike aansoek vir die toelating van die kandidaat by die raad indien; en
(b) dit moontlik is om die addisionele siekteverlof in te gewerk het
teen nie later nie as die einde van die maand wat volg op die maand waarin die
eksamen afgeneem word.
(6) Die eksamen vir die eerste akademiese jaar bestaan
uit twee gedeeltes, naamlik-
(a) 'n skriftelike gedeelte van
twee vraestelle van drie uur elk in die vakke Geïntegreerde Algemene
Verpleegkunde I en Sosiale Wetenskappe I, of Geïntegreerde Psigiatriese
Verpleegkunde I en Sosiale Wetenskappe I; en
(b) 'n praktiese gedeelte
wat deur die verpleegskool afgeneem word.
(7) Die eindeksamen bestaan uit drie
gedeeltes, naamlik-
(a) 'n skriftelike gedeelte van een
vraestel van drie uur in die vakke Geïntegreerde Algemene Verpleegkunde II of
Geïntegreerde Psigiatriese Verpleegkunde II;
(b) 'n praktiese
gedeelte wat deur die verpleegskool afgeneem word; en
(c) 'n
skriftelike gedeelte van een vraestel van drie uur in die vakke Etos en
Professionele Praktyk (insluitende Saaladministrasie en Kliniese Onderrig) en
Sosiale Wetenskappe II.
Registrasie
10. 'n Kandidaat wat die kursus
suksesvol voltooi het, word ingevolge die regulasies betreffende registers,
sonder die betaling van gelde, as 'n algemene verpleegkundige of psigiatriese
verpleegkundige geregistreer nadat die kennisgewing en rekord in regulasie 5(c)
bedoel, ingedien is.
Toepassing van regulasies
11. (1) Behoudens
die bepalings van regulasie 12, is hierdie regulasies van toepassing op alle
oorbruggingskursusse vir ingeskrewe verpleegkundiges in die Republiek wat tot
registrasie as 'n algemene verpleegkundige of psigiatriese verpleegkundige lei.
Oorgangsklousule
12. (1) Behoudens die bepalings van subregulasie
(2), doen die regulasies geen afbreuk nie aan die bepalings van-
(a) die regulasies bedoel in artikel 46(2) van die Wet op Verpleging,
1978 (Wet No. 6 van 1978) (Transkei), afgekondig by Goewermentskennisgewing No.
R. 683 van 14 April 1989, hierna "die 1989-regulasies"
genoem, wat tot 31 Desember 1998 van krag sal bly;
(b) die regulasies
afgekondig kragtens die Wet op Gesondheids- en Verwante Beroepe, 1985 (Wet No.
33 van 1985) (Bophuthatswana), by Goewermentskennisgewing No. 51 van 23 Maart
1990, hierna "die 1990-regulasies" genoem, wat tot 31
Desember 1998 van krag sal bly.
(2) Ondanks die bepalings van subregulasie (1),
word geen persoon na 31 Desember 1996 toegelaat om hom of haar vir 'n kursus
bedoel in die 1989- of 1990-regulasies te laat inskryf nie.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.