|
Goewermentskennisgewing No. R. 48
|
22 Januarie 1982
|
|
soos gewysig deur
|
|
|
No. R. 1432
|
1 Julie 1983
|
|
No. R. 2563
|
15 November 1985
|
|
No. R. 2189
|
19 November 1993
|
|
No. R. 71
|
17 Januarie 1997
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies vir die Diploma in Kliniese Verpleegkunde,
Gesondheidsdiagnose, -Behandeling en -Sorg
Die Minister van Gesondheid en Welsyn het, op die aanbeveling van die
Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, kragtens artikel 45(1) van die Wet op
Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), die regulasies in die Bylae hiervan,
uitgevaardig.
BYLAE
Voorwaardes vir die goedkeuring van skole
1. (1) 'n Skool kan goedgekeur word indien-
(a) die organisatoriese struktuur en die fasiliteite om die
onderrigprogram aan te bied volgens mening van die raad bevredigend is;
(b) die onderrigprogram volgens mening van die raad
bevredigend is;
(c) 'n persoon wat as 'n algemene verpleegkundige
geregistreer is en teenoor wie se naam 'n addisionele kwalifikasie in
verpleegonderrig en 'n addisionele kwalifikasie in verpleegadministrasie
geregistreer is, by die raad as die persoon in beheer van die skool aangedui
word;
(d) lede van die verpleegpersoneel wat aan die kliniese
onderrig van studente deelneem, geregistreerde algemene verpleegkundiges is
teenoor wie se name die addisionele kwalifikasie geregistreer is.
(2) Nieteenstaande die voorwaardes in hierdie regulasie
voorgeskryf, kan die raad 'n skool goedkeur selfs al kan daar nie aan al die
voorwaardes voldoen word nie. Goedkeuring kan op voorwaardes wat die raad mag
bepaal, verleen word.
Toelating tot die kursus
2. 'n Kandidaat moet aan die persoon in beheer van
die skool voorlę:
(a) bewys van lopende registrasie as 'n algemene
verpleegkundige. Hierdie registrasie moet dwarsdeur die voorgeskrewe tydperk
vir die kursus en totdat die uitslae van die eksamen gepubliseer word, in
stand gehou word, by versuim waarvan die tydperk van die kursus wat deurloop
is vanaf die datum van skrapping uit die register tot die datum van
terugplasing, verbeur word;
(b) 'n seniorsertifikaat of 'n gelykwaardige
kwalifikasie, tensy die raad anders bepaal.
Registrasie, terugplasing, staking en voltooiing van die kursus
3. Ingevolge die regulasies betreffende die
registers vir studente-
(a) moet 'n student om registrasie of terugplasing op die
register aansoek doen;
(b) moet die persoon in beheer van 'n skool die raad in
kennis stel indien 'n student die kursus om enige rede voor voltooiing staak,
insluitende 'n oorplasing na 'n ander skool;
(c) moet die persoon in beheer van 'n skool die raad in
kennis stel wanneer 'n student die kursus voltooi.
Duur van die kursus
4. (1) Die kursus duur minstens een akademiese jaar
van minstens tweehonderd (200) dae (diensvrydae uitgesluit).
(2) Indien 'n student van een skool na 'n ander oorskakel
of die kursus voor voltooiing staak, moet die kursus opnuut hervat word, tensy
die raad anders bepaal.
Die leergang
(Die leergang moet saam met die direktief wat
van die raad verkrygbaar is, gelees word)
5. Opmerkings-
(i) Al die vakke van die leergang moet dwarsdeur die
kursus op toegepaste vlak gedoseer word;
(ii) die etiese grondslae van verpleging moet dwarsdeur
die kursus beklemtoon word;
(iii) die wet wat die praktyk van verpleging beheer, met
inbegrip van die regulasies betreffende die gedrag van geregistreerde
verpleegkundiges wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak, die regulasies
betreffende die gedrag van ingeskrewe verpleegkundiges wat onbetaamlike of
skandelike gedrag uitmaak, die regulasies betreffende die gedrag van
ingeskrewe verpleegassistente wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak,
en die wetgewing wat op die verskillende aspekte van die leergang van
toepassing is, moet dwarsdeur die kursus op toegepaste vlak gedoseer word;
(iv) medies-geregtelike risiko's moet dwarsdeur die
kursus beklemtoon word;
(v) die maatskaplike, psigologiese, kulturele en fisiese
verwantskap in gesondheid en siekte moet dwarsdeur die kursus beklemtoon word;
(vi) die voorkomende, bevorderende, kuratiewe en
rehabilitatiewe aspekte moet dwarsdeur die kursus beklemtoon word;
(vii) die wetenskaplike beginsels onderliggend aan
verpleging moet dwarsdeur die kursus beklemtoon word;
(viii) Mikrobiologie, Parasitologie en Farmakologie moet
dwarsdeur die kursus beklemtoon word.
(1) Algemene siektetoestande.
(2) Kliniese verpleging (farmakologie en ander) in
gesondheidsdiagnose, -behandeling en -sorg.
(3) Gesondheidsorgsisteme.
(4) Navorsingsmetodologie en interpretasie van data.
Lesings, kliniese onderrig en praktika
6. Studente moet dwarsdeur die kursus sowel
teoretiese as kliniese onderrig in die vakke soos in die leergang in regulasie 5
voorgeskryf, ontvang en praktika deurloop.
Eksamens
7. (1) Die eksamen bestaan uit twee gedeeltes,
naamlik-
(a) 'n skriftelike gedeelte van twee vraestelle van drie
uur elk; en
(b) 'n praktiese gedeelte wat deur die verpleegskool
afgeneem word.
(2) Om tot die eksamen toegelaat te word, moet die
kandidaat-
(a) teen die einde van die maand waarin die eksamen
afgeneem word, die voorgeskrewe tydperk vir die kursus voltooi;
(b) volgens die evaluering van die verpleegskool waar die
kursus deurloop is, ten opsigte van houding, benadering, insig, kennis en
vaardighede bevoeg en geskik wees vir toelating; en
(c) op die datum van die eksamen aan die bepalings van
regulasie 6 voldoen.
(3) Die eksamen word afgeneem ooreenkomstig die regulasies
betreffende eksamens van die raad.
(4) Die kursus bedoel in hierdie regulasies word vir die
doeleindes van die toepassing van die regulasies bedoel in subregulasie (3) 'n
nabasiese kursus genoem.
Registrasie van addisionele kwalifikasie
8. Aan 'n kandidaat wat in die eksamen geslaag het,
word 'n sertifikaat van registrasie van die addisionele kwalifikasie sonder
betaling van enige gelde uitgereik: Met dien verstande dat die kennisgewing in
regulasie 3(c) voorgeskryf, ingedien is.
Toepassing van hierdie regulasies
9. Behoudens die bepalings van regulasie 10, is
hierdie regulasies van toepassing op alle kursusse in die Republiek van
Suid-Afrika wat tot die registrasie van 'n addisionele kwalifikasie in die
Kliniese Verpleegkunde, Gesondheidsdiagnose, -Behandeling en -Sorg, lei.
Oorgangsklousule
10. (1) Behoudens die bepalings van subregulasie
(2), doen hierdie regulasies geen afbreuk nie aan die bepalings van-
(a) die regulasies gepubliseer kragtens die Wet op
Verpleging, 1984 (Wet No. 13 van 1984), van die Republiek Ciskei, by
Goewermentskennisgewing No. 14 van 1987, hierna die 1987-regulasies genoem,
wat tot 31 Augustus 1997 van krag bly; en
(b) die regulasies gepubliseer kragtens die Wet op
Gesondheids- en Verwante Beroepe, 1985 (Wet No. 33 van 1985), van die
Republiek Bophuthatswana, by Goewermentskennisgewing No. 51 van 23 Maart 1990,
hierna die 1990-regulasies genoem, wat tot 31 Augustus 1997 van krag bly.
(2) Ondanks die bepalings van subregulasie (1), mag geen
persoon na 31 Desember 1996, vir 'n kursus bedoel in die 1987- of
1990-regulasies inskryf nie.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.