|
Goewermentskennisgewing No. R. 212
|
19 Februarie 1993
|
|
soos gewysig deur
|
|
|
No. R. 74
|
17 Januarie 1997
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende die Kursus in Kliniese Verpleegkunde
wat tot Registrasie van 'n Addisionele Kwalifikasie Lei
Die Minister van
Nasionale Gesondheid het, op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Raad op
Verpleging, kragtens artikel 45 (1) van die Wet op Verpleging, 1978 (Wet No. 50
van 1978), die regulasies vervat in die Bylae hiervan, uitgevaardig.
BYLAE
Woordomskrywing
1. In hierdie regulasies beteken "die Wet" die Wet op Verpleging, 1978 (Wet No. 50 van 1978),
en het enige uitdrukking waaraan 'n betekenis in die Wet geheg is, daardie
betekenis en, tensy uit die samehang anders blyk, beteken-
"akademiese jaarkursus" minstens 90 onderrigperiodes van 40
minute elk;
"kliniese verplegingskwalifikasie" 'n
kwalifikasie in een van die volgende studierigtings:
(a) Bedryfsgesondheidsverpleegkunde;
(b) Gemeenskapsverpleegkunde;
(c) Gerontologiese Verpleegkunde;
(d) Kinderverpleegkunde;
(e) Mediese en Chirurgiese Verpleegkunde;
(f) Psigiatriese
Verpleegkunde;
(g) Verloskundige en Neonatale Verpleegkunde;
"kursus" 'n deur die raad goedgekeurde program van onderrig
en opleiding wat deur 'n goedgekeurde verpleegskool soos in regulasie 3 bedoel,
aangebied word en wat lei tot 'n kliniese verplegingskwalifikasie wat aan die
houer daarvan die reg verleen om sodanige kwalifikasie kragtens artikel 22 van
die Wet as 'n addisionele kwalifikasie te registreer;
"studierigting" die toepaslike vakkeuse vir een van die
kwalifikasies wat nodig is vir die verwerwing van 'n kliniese
verplegingskwalifikasie.
Instelling van 'n kliniese kursus
2. Daar
word hierby 'n kursus ingestel wat lei tot die verwerwing van 'n kliniese
verplegingskwalifikasie.
Voorwaardes vir die goedkeuring van 'n
verpleegskool
3. (1) 'n Verpleegskool kan vir die aanbieding van 'n kursus
bedoel in hierdie regulasies, deur die Raad goedgekeur word indien-
(a) dit 'n verpleegskool is wat goedgekeur is om 'n kursus aan te bied
wat lei tot die registrasie van verpleegkundiges (algemene, psigiatriese en
gemeenskapsverpleegkundiges) en vroedvroue;
(b) die leergang vir die
kursus, insluitende die evalueringstelsel, deur die Raad goedgekeur is;
(c) die organisatoriese struktuur en fasiliteite van die verpleegskool
voorsiening maak vir die voortgesette aanbieding van die leergang en die
bereiking van die kursusdoelstellings in regulasie 6 bedoel; en
(d) die kwalifikasies van die persone wat deelneem aan die teoretiese en kliniese
onderrig van die studente, na die mening van die Raad bevredigend is.
(2) Ondanks die bepalings van subregulasie (1) kan die Raad 'n verpleegskool
goedkeur op voorwaardes wat wesenlik ooreenstem met die vereistes van daardie
subregulasie.
Toelating tot 'n kursus en die uitreiking van 'n
kwalifikasie
4. (1) 'n Kandidaat moet by die persoon in beheer van 'n
verpleegskool aansoek doen om toelating tot 'n kursus bedoel in hierdie
regulasies.
(2) Sodanige aansoek moet vergesel gaan van bewys van lopende
registrasie as 'n algemene verpleegkundige en, waar van toepassing, ook bewys
van registrasie as 'n psigiatriese verpleegkundige of vroedvrou, of van
registrasie in gemeenskapsverpleegkunde.
(3) Die lopende registrasie bedoel in
subregulasie (2), moet vir die volle duur van die kursus in stand gehou word.
(4) 'n Kliniese verplegingskwalifikasie bedoel in hierdie regulasies, word
uitgereik deur-
(a) 'n verpleegskool bedoel in regulasie 3(1)(a) wat wetlik die bevoegdheid het om kwalifikasies uit te reik; of
(b) die Raad, indien die verpleegskool nie wetlik die bevoegdheid het om
kwalifikasies uit te reik nie.
Duur van die kursus
5. Die kursus
duur minstens een akademiese jaar van 44 weke.
Die leergang
Kursusdoelstellings
6. (1) Die leergang vir die kursus moet so opgestel
word dat dit lei tot die verdieping van die kennis van, persoonlike groei by en
die voortgesette vaardigheid van 'n student ten opsigte van die volgende:
(a) die ontwikkeling van 'n gesonde wêreld- en lewensbeskouing en
voortgesette begrip vir die invloed van verskillende wêreldbeskouings op die
gedrag van denke van 'n mens;
(b) die betoning van respek vir die
waardigheid en uniekheid van die mens in sy sosiale, kulturele en religieuse
verband, en die benadering van en begrip vir die mens as 'n totale wese binne
hierdie verband;
(c) die toepassing en innovering van 'n stelselmatige
benadering tot die verpleging van die mens in die verskillende lewensfases, op
enige punt langs die gesondheid/siekte-kontinuum, in situasies binne en buite
die hospitaal;
(d) effektiewe interaksie wat groei by individue en
groepe bevorder;
(e) die handhawing van die etiese kodes van die
beroep en praktykvoering binne die bepalings van die toepaslike wetgewing;
(f) die ontwikkeling, organisering en bewyslewering van bydraes tot 'n
omvattende gesondheidsdiens;
(g) die afbakening van, en aanvaarding
van verantwoordelikheid vir, onafhanklike verplegingspraktykvoering;
(h) die voer van 'n wetenskaplik gefundeerde verplegingspraktyk;
(i) sinvolle samewerking binne die verpleegkundige en multidissiplinêre span
volgens die beginsels van medeverantwoordelikheid vir en samewerking met die oog
op die bereiking van 'n gemeenskaplike doel;
(j) die ontwikkeling en
implementering van operasionele leierskaps-, bestuurs- en onderrigvaardighede;
(k) die ontwikkeling van die verpleegkunde deur
navorsingsbetrokkenheid;
(l) die motivering en instandhouding van
gemeenskapsdeelname, -betrokkenheid en -ontwikkeling.
Kursusinhoud
(2) (a) Die kursus bestaan uit die volgende vakke:
(i) Verplegingsdinamika; en
(ii) een
van die volgende vakke, afhangende van die studierigting wat gevolg word, wat
bekend staan as keusekursus A:
(aa) Bedryfsgesondheid capita selecta;
(bb) Gemeenskapsgesondheid capita selecta;
(cc) Gerontologie (insluitende Geriatrie) capita
selecta;
(dd) Interne Geneeskunde en Chirurgie capita selecta;
(ee) Kindergesondheid (insluitende Pediatrie) capita
selecta;
(ff) Psigiatrie capita selecta;
(gg) Verloskunde en Neonatalogie capita selecta;en
(iii) een
van die volgende vakke, afhangende van die studierigting wat gevolg word, wat
'n onderafdeling van spesialisering kan insluit en bekend staan as keusekursus
B:
(aa) Bedryfsgesondheidsverpleegkunde;
(bb) Gemeenskapsverpleegkunde;
(cc) Gerontologiese Verpleegkunde;
(dd) Kinderverpleegkunde;
(ee) Mediese en Chirurgiese
Verpleegkunde;
(ff) Psigiatriese Verpleegkunde;
(gg) Verloskundige en Neonatale Verpleegkunde.
(b) (i) Die vakke bedoel in paragrawe
(a)(i) en (ii) word elk as een akademiese jaarkursus gereken.
(ii) Die vakke
bedoel in paragraaf (a)(iii) word elkeen as twee akademiese jaarkursusse
gereken.
(3) Elke vak bedoel in hierdie regulasie word geëksamineer-
(a) deur 'n verpleegskool bedoel in regulasie 4(4)(a) ooreenkomstig
die eksamenreëls van die betrokke verpleegskool; of
(b) deur 'n
verpleegskool namens die raad en met die goedkeuring van die raad ooreenkomstig
die regulasies betreffende eksamens van die raad.
Oorgangsmaatreëls
7. (1) Behoudens die bepalings van
subregulasie (2) doen hierdie regulasies geen afbreuk nie aan die regulasies
gepubliseer by Goewermentskennisgewings No. R. 83 van 16 Januarie 1970, R. 85
van 16 Januarie 1970, R. 1658 van 3 Augustus 1979, R. 1660 van 3 Augustus 1979,
R. 1665 van 3 Augustus 1979, R. 1669 van 3 Augustus 1979, R. 1670 van 3 Augustus
1979, R. 239 van 13 Februarie 1981, R. 240 van 13 Februarie 1981, en R. 47 van
22 Januarie 1982, soos gewysig wat tot 31 Desember 1997 van krag bly.
(2) Ondanks die bepalings van die regulasies genoem in subregulasie (1) word geen
persoon na 31 Desember 1993 toegelaat tot die kursusse bedoel in daardie
subregulasie nie.
(3) (a) Behoudens die bepalings van paragraaf
(b), doen hierdie regulasies geen afbreuk nie aan die bepalings van die
regulasies gepubliseer kragtens die Wet op Verpleging, 1984 (Wet No. 13 van
1984) (Ciskei), by Goewermentskennisgewing No. 92 van 1986, soos gewysig, hierna
die 1986-regulasies genoem, en die regulasies gepubliseer by
Goewermentskennisgewing No. 9A van 18 Maart 1988 (Ciskei), soos gewysig, hierna
die 1988-regulasies genoem, wat tot 31 Desember 1998 van krag bly.
(b) Ondanks die bepalings van paragraaf (a), word geen persoon na 28
Februarie 1997 toegelaat om vir 'n kursus bedoel in die 1986- of 1988-regulasies
in te skryf nie.
(4) (a) Ondanks die bepalings van subregulasie
(1), doen hierdie regulasies geen afbreuk nie aan die bepalings van die
regulasies gepubliseer kragtens die Wet op Gesondheids- en Verwante Beroepe,
1985 (Wet No. 33 van 1985) (Bophuthatswana), by Goewermentskennisgewing No. 62
van 23 Maart 1990, soos gewysig, hierna die 1990-regulasies genoem, wat tot 31
Desember 1998 van krag bly.
(b) Ondanks die bepalings van
paragraaf (a), word geen persoon na 28 Februarie 1997 toegelaat om vir 'n kursus
bedoel in die 1990-regulasies in te skryf nie.
(5) (a) Ondanks
die bepalings van subregulasies (1) en (2), is die regulasies gepubliseer by
Goewermentskennisgewing No. R. 1665 van 3 Augustus 1979, soos gewysig, hierna
die 1979-regulasies genoem, tot 31 Desember 1998 van toepassing in die gebied
van die voormalige Republiek van Transkei.
(b) Ondanks die
bepalings van paragraaf (a), word geen persoon na 28 Februarie 1997 toegelaat om
vir 'n kursus bedoel in die 1979-regulasies in te skryf nie.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.