|
Goewermentskennisgewing No. R. 2488
|
26 Oktober 1990
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende die Voorwaardes Waaronder Geregistreerde
Vroedvroue en Ingeskrewe Vroedvroue Hul Beroep mag Uitoefen
Die Minister van Nasionale Gesondheid en Bevolkingsontwikkeling het
kragtens artikel 45(1)(q) van die Wet op Verpleging, 1978 (Wet No.
50 van 1978), op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging,
die regulasies in die Bylae hiervan uiteengesit, uitgevaardig.
BYLAE
HOOFSTUK 1
WOORDOMSKRYWING
1. In hierdie regulasies beteken "die Wet" die Wet op Verpleging,
1978 (Wet No. 50 van 1978), en het enige uitdrukking waaraan 'n betekenis
in die Wet geheg is, daardie betekenis, en, tensy uit die samehang
anders blyk, beteken-
"bepaalde beampte" die mediese gesondheidsbeampte van 'n plaaslike
bestuur of, waar so 'n amp nie bestaan nie of vakant is, die geregistreerde
verpleegkundige in beheer van die verplegingsdienste van sodanige
plaaslike bestuur;
"bevalling" swangerskap, baring en die puerperium;
"geregistreerde persoon" 'n persoon wat ingevolge die Wet
as 'n verpleegkundige of as 'n vroedvrou of ingevolge die Wet op Geneeshere,
Tandartse en Aanvullende Gesondheidsdiensberoepe, 1974 (Wet No. 56
van 1974), as 'n geneesheer of tandarts geregistreer is;
"kind" ook 'n ongebore kind.
HOOFSTUK 2
VOORWAARDES WAARONDER 'N GEREGISTREERDE VROEDVROU SY
BEROEP MAG UITOEFEN
2. 'n Geregistreerde vroedvrou moet onder die voorwaardes
uiteengesit in hierdie Hoofstuk sy beroep uitoefen.
Toerusting en materiale
3. In die loop van sy praktyk moet 'n geregistreerde vroedvrou
te alle tye die toerusting en materiale wat vir die praktyk van verloskunde
benodig word, beskikbaar hê, insluitende-
(a) 'n binneaarse infusiestel en minstens 2 x 1 000ml
van 5% dekstrose in 'n normale soutoplossing;
(b) die toerusting en materiaal wat nodig is om 'n episiotomie
uit te voer en om 'n episiotomie of 'n eerste- of tweedegraadse skeur
van die perineum te heg.
Rekords
4. (1) 'n Geregistreerde vroedvrou moet duidelik en akkurate
rekords hou van die verloop van swangerskap, baring en die puerperium
en van alle handelinge, insluitende noodhandelinge, wat hy in verband
met 'n moeder en kind uitvoer.
(2) Sodanige rekords moet in ooreenstemming wees met die besonderhede
wat in Bylae A van hierdie Hoofstuk uiteengesit word.
(3) 'n Geregistreerde vroedvrou moet die rekords bedoel in subregulasie
(1) minstens drie jaar lank hou en moet die rekords op aanvraag aan
die raad verskaf.
Borsvoeding
5. 'n Geregistreerde vroedvrou moet borsvoeding bevorder
tensy daar kontra-indikasie is.
Die voorgeboortetydperk
6. (1) Wanneer hy bespreek word om 'n bevalling waar te neem,
moet 'n geregistreerde vroedvrou-
(a) die pasiënt aanraai om minstens een keer gedurende
haar swangerskap deur 'n geneesheer ondersoek te word en 'n bloedtoets
te ondergaan;
(b) vasstel of enige abnormaliteit wat 'n nadelige uitwerking
op die huidige bevalling kan hê, gedurende 'n vorige swangerskap,
baring of puerperium voorgekom het en, indien wel, die pasiënt aanraai
om geneeskundige advies in te win;
(c) in die geval van 'n primigravida, al die beramings
doen wat nodig is om vas te stel of die bekken geskik is vir 'n normale
verlossing en waar daar enige twyfel bestaan, die geval onmiddellik
na 'n geneesheer verwys;
(d) die pasiënt onderrig oor voorgeboorte-oefeninge, insluitende
voorbereiding vir baring en voorbereiding vir borsvoeding.
(2) Waar moontlik, moet die geregistreerde vroedvrou die pasiënt
minstens een keer tuis besoek en die pasiënt minstens een keer per
maand ondersoek tot die 28e week, daarna minstens een keer in twee
weke tot die 36e week en dan minstens een keer per week totdat die
pasiënt in baring gaan.
(3) Indien dit nie moontlik is om aan die bepalings van subregulasie
(2) te voldoen nie, moet die geregistreerde vroedvrou dienooreenkomstig
'n inskrywing in die rekord van die geval maak, met vermelding van
redes.
Baring
7. (1) 'n Geregistreerde vroedvrou wat 'n geboorte waarneem,
mag nie die pasiënt verlaat sonder om 'n adres te laat waar hy onverwyld
gevind kan word nie.
(2) Wanneer die tweede stadium van baring ophande is, bly die geregistreerde
vroedvrou by die pasiënt tot na die geboorte van die kind en so lank
daarna as wat die toestand van die pasiënt of die kind vereis: Met
dien verstande dat hy minstens een uur lank na die uitstoot van die
plasenta en vliese by die pasiënt bly.
(3) 'n Geregistreerde vroedvrou moet in geval van 'n postpartum-bloeding
wanneer 'n geneesheer nie beskikbaar is nie of in afwagting van die
aankoms van 'n geneesheer, nie meer nie as 10 eenhede oksitosien op
'n keer deur middel van 'n binnespierse inspuiting toedien, maar die
toediening kan met tussenpose herhaal word indien en wanneer dit nodig
is.
(4) 'n Inwendige ondersoek word nie deur 'n geregistreerde vroedvrou
uitgevoer in die geval van vaginale bloeding nie.
(5) 'n Episiotomie kan deur 'n geregistreerde vroedvrou uitgevoer
word om 'n ernstige skeur van die perineum of komplikasies met betrekking
tot die kind te verhoed, mits die kop op die perineum is.
Puerperium
8. Gedurende die puerperium moet die geregistreerde vroedvrou-
(a) die moeder en kind minstens een keer per dag besoek
en mag hy hulle nie uit sy sorg ontslaan nie tot tyd en wyl beide
se toestand bevredigend is;
(b) sodanige besoeke, indien moontlik, daagliks vir minstens
die vyf dae wat op die geboorte van die kind volg, volhou;
(c) indien dit nie moontlik is om die moeder en kind minstens
een keer per dag vir minstens die vyf dae wat op die geboorte van
die kind volg te besoek nie, dienooreenkomstig 'n inskrywing in die
rekord van die geval maak, met vermelding van redes;
(d) die moeder onderrig in-
(i) nageboortelike oefeninge en borsvoeding tensy
daar kontra-indikasie is;
(ii) die versorging van haarself en haar kind gedurende
die puerperium;
(iii) die herkenning van abnormaliteite wat mag voorkom
en wanneer en waar om hulp te verkry;
(iv) mondelinge rehidrasie-terapie vir die kind.
Voorafgemengde gas en luganalgesie
9. 'n Geregistreerde vroedvrou mag voorafgemengde gas en
luganalgesie slegs op die voorskrif van 'n geneesheer aan 'n pasiënt
toedien.
Geneeskundige hulp
10. (1) In die geval waar enige van die volgende siektes,
abnormaliteite of komplikasies gedurende swangerskap, baring of die
puerperium of by die kind voorkom, moet die geregistreerde vroedvrou,
behoudens die bepalings van subregulasie (4), met die toestemming
van die moeder, 'n geneesheer inroep of die pasiënt na 'n geneesheer
verwys:
(a) Gedurende swangerskap:
Oormatige mislikheid en braking;
aborsie, werklik of dreigend;
vaginale bloeding;
skynbare vertraging van groei in die baarmoeder;
hipertensie;
albumien of suiker in die urien;
edeem van die hande, gesig of voete;
stuiptrekkings;
abnormale vaginale afskeiding;
sere aan die geslagsorgane;
enige toestand wat dui op 'n wanverhouding tussen kop en bekken;
abnormale presentering na die 32e week;
meervoudige swangerskap;
teerheid of abnormale opsetting van die buik.
(b) Gedurende baring:
Stuiptrekkings;
abnormale vaginale afskeiding;
sere aan die geslagsorgane;
oormatige vaginale bloeding;
premature baring voor die 37e week;
enige ander ligging as 'n ongekompliseerde hoofligging;
wanneer die ligging nie vasgestel kan word nie;
meervoudige swangerskap;
wanneer die hoof nie in die bekken is in die geval van 'n primigravida nie;
buitengewone verlenging van enige stadium van baring;
versteurde of abnormale baarmoederwerking;
presentering of prolaps van die naelstring;
fetale nood;
plasenta nie heeltemal uitgestoot binne een uur na die geboorte van
die kind nie;
derdegraadse skeur van die perineum.
(c) Gedurende die puerperium:
Stuiptrekkings;
opsetting en teerheid van die buik;
slegruikende logia;
rigor;
styging van liggamstemperatuur tot 37,7°C vir 24 uur, of 'n herhaling
daarvan binne daardie tydperk, of 'n styging van liggaamstemperatuur
tot 37,4°C op twee agtereenvolgende dae;
aanhoudend vinnige of gelykmatig stygende polsslag;
buitengewone opswelling van die borste met gelokaliseerde teerheid
of pyn;
oormatige of langdurige bloeding;
pyn in die onderste ledemate, veral pyn in die kuite.
(d) By die kind:
Geboortebeserings;
misvorming of wanstaltigheid (of dit die lewe in gevaar stel al dan nie);
buitengewone swakheid, of die kind prematuur is al dan nie;
ontsteking van of enige afskeiding uit die oë;
ernstige veluitslae, veral dié gekenmerk deur die vorming van waterige blase;
ontsteking van of bloeding uit die nawel;
geelsug;
stuiptrekkings;
neonatale bloeding.
(2) Waar enige ander siekte, abnormaliteit of komplikasie as die
siektes, abnormaliteite of komplikasies bedoel in subregulasie (1),
gedurende swangerskap, baring of die puerperium of by die kind voorkom,
kan 'n geregistreerde vroedvrou, indien hy dit nodig ag, behoudens
die bepalings van subregulasie (4) en met die toestemming van die
moeder, 'n geneesheer inroep of die pasiënt na 'n geneesheer verwys.
(3) Waar 'n geneesheer ingereoep of geraadpleeg word soos bedoel
in subregulasies (1) en (2), moet 'n geregistreerde vroedvrou-
(a) by die pasiënt bly en die noodgeval na sy beste vermoë
hanteer totdat die geneesheer opdaag; of
(b) die pasiënt vergesel indien die pasiënt na geneeskundige
hulp gestuur word.
(4) Wanneer geneeskundige hulp ontbied word soos bedoel in subregulasies
(1) en (2), moet die geregistreerde vroedvrou die geneesheer inroep
wat die moeder verlang.
(5) Waar 'n geregistreerde vroedvrou in die loop van swangerskap,
baring of die puerperium-
(a) die pasiënt aanraai om 'n geneesheer te raadpleeg;
(b) die pasiënt na 'n ander geregistreerde persoon as 'n
geneesheer verwys;
(c) met die pasiënt oorleg pleeg om 'n geneesheer in te
roep,
moet die besonderhede wat ter sake is, asook enige weiering deur die
pasiënt om tot enige van bogenoemde in te stem, aangeteken word soos
in Bylae A van hierdie Hoofstuk uiteengesit.
BYLAE A
REKORDS VAN KRAAMGEVALLE BEHANDEL
Datum van bespreking ....................
Naam en adres van pasiënt ....................
Ouderdom ....................
Gravida ....................
Para. ....................
Beraamde datum van geboorte ....................
Obstetriese en ander geskiedenis
Geskiedenis van vorige algemene gesondheid ....................
Geskiedenis van vorige swangerskappe ....................
Geskiedenis van vorige kinders ....................
Geboortemassa van vorige kinders ....................
Geskiedenis van vorige barings ....................
Geskiedenis van vorige puerperiums ....................
Enige ander siektes, komplikasies of abnormaliteite ....................
Enige medisyne wat in die loop van hierdie swangerskap geneem is
....................
Voorgeboortebesoeke
Datums van besoeke ....................
Datums van besoeke in pasiënt se eie huis ....................
Swangerskapsduur in weke ....................
Abnormale bevindings, indien daar is ....................
Verwysing na geneesheer ....................
Indien verwys, naam van geneesheer ....................
Medisyne of behandeling voorgeskryf ....................
Indien nie verwys in die geval van siektes, komplikasies of abnormaliteite
nie, redes waarom nie verwys nie ....................
Noodgevalle en optrede ....................
Baring
Datum en tyd wanneer geregistreerde vroedvrou ingeroep is ....................
Datum en tyd van aankoms ....................
Datum en tyd van aanvang van baring ....................
Rekord by aankoms:
(a) Moeder se polsslag, temperatuur en bloeddruk
....................
(b) Fetale hartslag ....................
(c) Datum en tyd van aanvang van vasgestelde baring, insluitende
sametrekkings ....................
Bevindings oor buikbekloppings ....................
Datums en tye van bevindings van alle inwendige ondersoeke ....................
Datum en tyd van ruptuur van vliese ....................
Datum en tyd van aanvang van tweede stadium ....................
Datum en tyd van geboorte van kind ....................
Datum en tyd van voltooiing van derde stadium ....................
Bloeddruk, polsslag en temperatuur by voltooiing van derde stadium
....................
Manier van uitstoot van die plasenta ....................
Toestand van die plasenta en vliese ...................
Hoeveelheid bloedverlies ...................
Enige komplikasies ...................
Episiotomie, hegting ...................
Perineale skeure, hegting ...................
Lokale verdowing toegedien ...................
Naam van geneesheer, indien een ingeroep is, met die datum, tyd en
rede waarvoor hy ingeroep is ...................
Besonderhede van en redes vir medisyne en behandeling wat vir die
moeder en kind gegee is, insluitende enige noodoperasie ...................
Die kind
Geslag ...................
Voltyd, prematuur of miskraam (indien prematuur of miskraam, gee
aantal weke by benadering) ...................
Lewend of doodgebore (indien doodgebore, dui aan gemasereer of nie) ...................
Geboortemassa ...................
Apgar-telling een minuut na geboorte ...................
Apgar-telling vyf minute na geboorte ...................
Medisyne: oë of ander vir die kind ...................
Enige fisiese abnormaliteite en enige afwyking van die normale by
geboorte of gedurende die puerperium ...................
Naam van geneesheer, indien een ingeroep is, met die datum, tyd en
rede waarom hy ingeroep is ..............
Ontslag of laaste besoek:
Datum ...................
Massa en toestand ...................
Voedingsmetode ...................
Noodtoestande en optrede ...................
Die moeder
Handtekening van pasiënt/getuie, indien die advies nie aangeneem word
nie [regulasie 6(1)] ...................
Indien dit nie moontlik is om aan die bepalings van regulasie 6(2)
te voldoen nie, meld die redes ...................
Naam van geneesheer, indien een ingeroep is, met die datum, tyd en
rede waarom hy ingeroep is ...................
Indien 'n geneesheer nie beskikbaar is nie, of indien die pasiënt
weier om 'n geneesheer in te roep, meld die rede waarom hulp nodig
was, die datum en tyd en of die geneesheer nie beskikbaar was nie
of deur die pasiënt geweier is ...................
Handtekening van pasiënt/getuie ...................
Indien 'n geneesheer ingeroep word sonder om die pasiënt te raadpleeg,
meld waarom dit nie moontlik was om die pasiënt te raadpleeg nie [regulasie
10(1)] ...................
Datum ...................
Rekord van daaglikse polsslag en liggaamstemperatuur, wat ook daaglikse
vordering van involusie van die baarmoeder en toestand van die logia
aandui ...................
Indien dit nie moontlik is om aan enige van die bepalings van regulasie
8 te voldoen nie, meld die redes ...................
Handtekening van pasiënt/getuie, indien enige behandeling of verwysing
geweier word [regulasie 10(5)] ...................
Toestand van die moeder by ontslag of laaste besoek ...................
......................................
Handtekening van geregistreerde
vroedvrou
HOOFSTUK 3
VOORWAARDES WAARONDER 'N INGESKREWE VROEDVROU SY BEROEP
MAG UITOEFEN
11. 'n Ingeskrewe vroedvrou moet onder die voorwaardes uiteengesit
in hierdie Hoofstuk sy beroep uitoefen.
Privaatpraktyke
12. (1) 'n Ingeskrewe vroedvrou wat 'n privaatpraktyk beoefen,
is geregtig om as sodanig te praktiseer slegs indien hy kragtens Goewermentskennisgewing
No. R.2489 van 26 Oktober 1990 deur 'n bepaalde beampte op 'n lys
van ingeskrewe vroedvroue geplaas is.
(2) 'n Ingeskrewe vroedvrou bedoel in subregulasie (1) moet skriftelik
aansoek doen by die bepaalde beampte in wie se regsgebied hy 'n privaatpraktyk
beoefen, en hom dan vir 'n persoonlike onderhoud met bedoelde bepaalde
beampte aanmeld op 'n plek en tyd deur die bepaalde beampte vir di‚
doel aangewys.
(3) 'n Ingeskrewe vroedvrou bedoel in subregulasie (1) moet bewys
van inskrywing by die raad en sodanige ander inligting as wat die
betrokke bepaalde beampte verlang, verstrek.
(4) Indien 'n bepaalde beampte na oorweging van 'n aansoek ingevolge
subregulasie (2), daarvan oortuig is dat die betrokke aansoeker by
die raad as 'n vroedvrou ingeskryf is en aan die vereistes van regulasie
13 voldoen, moet hy die naam van die betrokke aansoeker op 'n lys
bedoel in subregulasie (1) plaas.
(5) 'n Ingeskrewe vroedvrou bedoel in subregulasie (1) moet die betrokke
bepaalde beampte binne sewe dae per geregistreerde pos van enige verandering
van adres in kennis stel.
(6) In die geval van 'n ingeskrewe vroedvrou wat onmiddellik voor
die inwerkingtreding van hierdie regulasies 'n privaatpraktyk beoefen,
tree die bepalings van subregulasie (1) in werking-
(a) by verstryking van 'n tydperk van ses maande na die
datum van sodanige inwerkingtreding, indien daar nie binne daardie
tydperk aansoek ingevolge subregulasie (2) gedoen word nie;
(b) op die datum van plasing op 'n lys soos beoog in subregulasie
(1), indien sodanige aansoek binne daardie tydperk gedoen word.
Toerusting en materiale
13. In die loop van sy praktyk moet die ingeskrewe vroedvrou
te alle tye minstens die volgende toerusting en materiale tot sy beskikking hê:
(a) 'n Fetale stetoskoop;
(b) 'n kliniese termometer;
(c) 'n antiseptiese middel, seep en 'n naelborsel;
(d) 'n skêr;
(e) ligature vir die afbinding van 'n naelstring;
(f) deppers en verbande;
(g) chirurgiese handskoene;
(h) watte;
(i) gaas;
(j) twee arterieklemme;
(k) 'n horlosie met 'n sekondewyser;
(l) 'n skaal;
(m) toerusting vir die toets van urien;
(n) 'n houer vir die wegneem van toerusting wat by die
baring gebruik is.
Rekords
14. (1) 'n Ingeskrewe vroedvrou moet 'n rekord hou van elke
geval wat deur hom behandel is, in die vorm in Bylae A van hierdie
Hoofstuk voorgeskryf.
(2) 'n Ingeskrewe vroedvrou moet die rekord in subregulasie (1)
bedoel, minstens drie jaar lank hou en moet sodanige rekord op aanvraag
aan die raad toon.
Voorkoming van infeksie
15. 'n Ingeskrewe vroedvrou moet die reëls van asepsis en
voorkoming van kruisbesmetting nougeset nakom wanneer hy 'n pasiënt
bystaan.
Pligte van 'n ingeskrewe vroedvrou gedurende die voorgeboortetydperk
16. (1) Wanneer hy bespreek word om 'n bevalling waar te
neem, moet 'n ingeskrewe vroedvrou-
(a) die pasiënt aanraai om minstens een keer gedurende
haar swangerskap geneeskundig ondersoek te word en die nodige bloedtoets
te ondergaan;
(b) vasstel of enige abnormaliteit gedurende enige vorige
swangerskap, baring of puerperium voorgekom het en, indien wel, die
pasiënt aanraai om geneeskundige advies in te win.
(2) Indien die pasiënt om enige rede nie die advies bedoel in subregulasie
(1) aanvaar nie, moet die ingeskrewe vroedvrou dienooreenkomstig 'n
inskrywing in die rekord van die geval maak en moet hy, behoudens
die bepalings van subregulasie (3), die handtekening van die pasiënt
of 'n ander getuie verkry.
(3) Indien die handtekening bedoel in subregulasie (2) nie verkry
kan word nie, moet die ingeskrewe vroedvrou dienooreenkomstig 'n inskrywing
in die rekord van die geval maak.
(4) Waar moontlik, moet die ingeskrewe vroedvrou die pasiënt minstens
een keer tuis besoek en die pasiënt minstens een keer per maand ondersoek
tot die 28e week, daarna minstens een keer in twee weke tot die 36e
week en dan minstens een keer per week totdat die pasiënt in baring
gaan.
(5) Indien dit nie moontlik is om aan die bepalings van subregulasie
(4) te voldoen nie, moet die ingeskrewe vroedvrou dienooreenkomstig
'n inskrywing in die rekord van die geval maak, met vermelding van
redes.
Pligte gedurende baring
17. 'n Ingeskrewe vroedvrou doen slegs die vaginale en rektale
ondersoeke wat nodig is: Met dien verstande dat in die geval van vaginale
bloeding daar geen inwendige ondersoeke uitgevoer mag word nie.
Bystand aan 'n pasiënt gedurende baring
18. (1) 'n Ingeskrewe vroedvrou wat 'n geboorte waarneem,
mag nie die pasiënt verlaat sonder om 'n adres te laat waar hy onverwyld
gevind kan word nie.
(2) Wanneer die tweede stadium van baring ophande is, bly die ingeskrewe
vroedvrou by die pasiënt tot na die geboorte van die kind en so lank
daarna as wat die toestand van die pasiënt of die kind vereis: Met
dien verstande dat hy minstens een uur lank na die uitstoot van die
plasenta en vliese by die pasiënt bly.
Pligte gedurende die puerperium
19. (1) Gedurende die puerperium moet die ingeskrewe vroedvrou
die moeder en kind minstens een keer per dag besoek tot tyd en wyl
beide se toestand bevredigend is: Met dien verstande dat sodanige
besoeke, indien moontlik, daagliks vir minstens die vyf dae wat op
die geboorte van die kind volg, volgehou moet word.
(2) Indien dit nie moontlik is om die moeder en kind minstens een
keer per dag vir minstens die vyf dae wat op die geboorte van die
kind volg te besoek nie, moet die ingeskrewe vroedvrou dienooreenkomstig
'n inskrywing in die rekord van die geval maak, met vermelding van
redes.
(3) 'n Ingeskrewe vroedvrou moet die pasiënt aanraai om minstens
een keer gedurende die drie maande wat op die bevalling volg, deur
'n geneesheer of by 'n nageboorte-kliniek ondersoek te word.
(4) 'n Ingeskrewe vroedvrou moet borsvoeding bevorder tensy daar
kontra-indikasie is.
(5) 'n Ingeskrewe vroedvrou moet die moeder onderrig in-
(a) die versorging van haarself en haar kind gedurende
die puerperium;
(b) die herkenning van abnormaliteite wat mag voorkom en
wanneer en waar om hulp te verkry;
(c) mondelinge rehidrasie-terapie vir die kind;
(d) die prosedure vir die registrasie van die kind se geboorte;
(e) die prosedure vir die neem van die kind na 'n kliniek
vir immunisering.
Geneeskundige hulp
20. (1) 'n Ingeskrewe vroedvrou moet noukeurig let op die
normale verloop van swangerskap, baring en die puerperium.
(2) In alle gevalle waar enige siekte, abnormaliteit of komplikasie
gedurende swangerskap, baring of die puerperium by die moeder of by
die kind voorkom, moet die ingeskrewe vroedvrou onverwyld, na oorlegpleging
met die moeder of, waar nodig, met die familie, 'n geneesheer van
die moeder of die familie se keuse inroep of die pasiënt na 'n geneesheer
verwys, en waar moontlik die rede meld waarvoor hy ingeroep is.
(3) Indien die betrokke geneesheer nie beskikbaar is nie, moet 'n
ander geneesheer of 'n geregistreerde vroedvrou ingeroep word, indien
beskikbaar.
(4) Indien 'n geneesheer of 'n geregistreerde vroedvrou nie beskikbaar
is nie, of indien die moeder of die familie weier om in te stem dat
'n geneesheer of 'n geregistreerde vroedvrou ingeroep word, moet die
ingeskrewe vroedvrou die pasiënt na sy beste vermoë bystaan en dienooreenkomstig
'n inskrywing in die rekord van die geval maak en, behoudens die bepalings
van subregulasie (5), die handtekening van die moeder of van 'n ander
getuie verkry.
(5) Indien sodanige handtekening nie verkry kan word nie, moet die
ingeskrewe vroedvrou dienooreenkomstig 'n inskrywing in die rekord
van die geval maak.
(6) Indien dit nie moontlik is om die moeder of die familie te raadpleeg
nie, moet die ingeskrewe vroedvrou volgens sy eie oordeel handel en
die feite in die rekord van die geval aanteken.
(7) By die toepassing van subregulasie (2) beteken siekte, abnormaliteit
of komplikasie enige van die volgende:
(a) Gedurende swangerskap:
Oormatige naarheid en braking;
oormatige toename in massa;
suiker of albumien in die urien;
styging in bloeddruk;
hoofpyne en visuele steurnisse;
tuberkulose;
aborsie, werklik of dreigend;
vaginale bloeding;
oënskynlike gebrek aan fetale groei;
swelling van die hande, gesig of voete;
stuiptrekkings;
slegruikende afskeiding;
sere aan die geslagsorgane;
misvorming of kort postuur van die moeder;
abnormale presentering na die 32e week;
waar meer as een baba verwag word;
enige abnormaliteit wat opgemerk word.
(b) Gedurende baring:
Stuiptrekkings;
abnormale vaginale afskeiding;
sere aan die geslagsorgane;
oormatige vaginale bloeding;
premature baring voor die 37e week;
enige ander ligging as 'n ongekompliseerde hoofligging;
wanneer die ligging nie vasgestel kan word nie;
buitengewone verlenging van enige stadium van baring;
oormatige of abnormale baarmoederwerking;
presentering of prolaps van die naelstring;
fetale nood;
plasenta nie heeltemal uitgestoot binne 30 minute na die geboorte
van die kind nie;
enige skeur van die perineum;
wanneer meer as een baba verwag word.
(c) Gedurende die puerperium:
Stuiptrekkings;
opsetting en teerheid van die buik;
slegruikende logia;
rigor;
styging in liggaamstemperatuur;
aanhoudend vinnige of gelykmatige stygende polsslag;
buitengewone opswelling van die borste met gelokaliseerde teerheid
of pyn;
oormatige of langdurige bloeding;
pyn in die onderste ledemate, veral pyn in die kuite.
(d) By die kind:
Geboortebeserings;
misvorming (of dit die lewe in gevaar stel al dan nie);
buitengewone swakheid, of die kind prematuur is al dan nie;
gebrek aan massatoename;
ontwatering;
ontsteking van, of enige afskeiding uit die oë, hoe gering ook al;
ernstige veluitslae, veral dié gekenmerk deur die vorming van waterige blase;
ontsteking van of bloeding uit die nawel;
geelsug;
stuiptrekkings;
bloeding van enige aard.
(8) Waar 'n geneesheer of geregistreerde vroedvrou ingeroep of geraadpleeg
word soos bedoel in subregulasies (2) en (3), moet 'n ingeskrewe vroedvrou-
(a) wag op die aankoms van die geneesheer of geregistreerde
vroedvrou en sy bevele uitvoer;
(b) die pasiënt vergesel indien die pasiënt na geneeskundige
hulp gestuur word.
BYLAE A
REKORD VAN KRAAMGEVALLE BEHANDEL
Gevalnommer ...................
Naam van pasiënt ...................
Adres ...................
Bevolkingsgroep ...................
Ouderdom ...................
Datum van bespreking ...................
Voorgeboortetydperk
Beraamde datum van geboorte ...................
Getal vorige bevallings
(voltyd ...................
prematuur ...................
miskraam ...................)
Abnormaliteite gedurende enige vorige swangerskap, baring en puerperium ...................
Huidige algemene gesondheidstoestand van pasiënt ...................
Enige abnormaliteite gedurende huidige swangerskap ...................
Advies gegee en bevindings ...................
Handtekening van pasiënt of ander getuie indien advies nie aanvaar
word nie ...................
Datums van mediese ondersoeke, indien uitgevoer ...................
Datums van ondersoeke deur ingeskrewe vroedvrou en bevindings:
- hoogte van fundus ...................
- ligging ...................
- fetale hart ...................
- edeem ...................
- urien ...................
- polsslag ...................
Naam van geneesheer of geregistreerde vroedvrou, indien ontbied, met
datum, tyd en rede waarom hy ontbied is ...................
Baring
Datum en tyd van aankoms van die ingeskrewe vroedvrou ...................
Liggaamstemperatuur en polsslag van pasiënt by aankoms van die ingeskrewe
vroedvrou ...................
Datum en tyd van geboorte van kind ...................
Ligging ...................
Duur van baring ...................
Toestand van plasenta en vliese ...................
Hoeveelheid bloed verloor ...................
Komplikasies, as daar is (met inbegrip van skeure van die perineum) ...................
Naam van geneesheer of geregistreerde vroedvrou indien hy vir die
moeder ontbied is, met datum, tyd en rede waarom hy ontbied is ...................
Die kind
Voltyd, prematuur of miskraam ...................
Geslag ...................
Lewend of doodgebore (indien doodgebore, dui aan of gemasereer al
dan nie) ...................
Geboortemassa ...................
Lengte by geboorte ...................
Enige abnormaliteite ...................
Datum van skeiding van naelstring ...................
Puerperium
Die polsslag, liggaamstemperatuur en toestand van die logia van die
moeder moet daagliks aangeteken word op die kaart wat vir daardie
doel beskikbaar moet wees.
Naam van geneesheer of geregistreerde vroedvrou, indien vir die moeder
of die kind ontbied, met datum, tyd en rede waarom hy ontbied is ...................
Bykomende inligting
Inskrywings en handtekeninge in regulasies 16(2), 16(3), 16(5), 19(2),
20(2), 20(4), 20(5) en 20(6).
Ontslag of laaste besoek
Datum ...................
Toestand van moeder ...................
Toestand en massa van kind ...................
Metode van voeding ...................
Verwys na babasorgkliniek (indien beskikbaar) ...................
Handtekening ...................
Datum ...................

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.