|
Goewermentskennisgewing No. R. 276
|
15 Februarie 1980
|
|
soos gewysig deur
|
|
|
No. R. 2195
|
31 Oktober 1980
|
|
No. R. 51
|
22 Januarie 1982
|
|
No. R. 1429
|
1 Julie 1983
|
|
No. R. 2558
|
15 November 1985
|
|
No. R. 2188
|
19 November 1993
|
|
No. R. 57
|
17 Januarie 1997
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies vir die Diploma in Gemeenskapsverpleegkunde
Die Minister van Gesondheid vaardig, kragtens artikel 45(1)(i) van die Wet op
Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), en op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse
Raad op Verpleging, die volgende regulasies uit ter vervanging van die
regulasies gepubliseer by Goewermentskennisgewing R. 43 van 9 Januarie 1970,
soos gewysig deur Kennisgewings R. 259 van 14 Februarie 1975, R. 1581 van 12
Augustus 1977 en R. 1515 van 21 Julie 1978:
Voorwaardes vir die goedkeuring van skole
1. (1) 'n Skool kan goedgekeur word
indien-
(a) die organisatoriese struktuur en die
fasiliteite om die onderrigprogram aan te bied volgens mening van die raad
bevredigend is;
(b) die onderrigprogram volgens mening van die
raad bevredigend is;
(c) 'n geregistreerde verpleegkundige
teenoor wie se naam 'n addisionele kwalifikasie in verpleegonderrig en 'n
addisionele kwalifikasie in verpleegadministrasie geregistreer is, by die raad
as die persoon in beheer van die skool aangedui word;
(d) lede
van die verpleegpersoneel wat aan die onderrig van studente deelneem,
geregistreerde verpleegkundiges is teenoor wie se name die addisionele
kwalifikasie geregistreer is, en waar moontlik die addisionele kwalifikasie in
verpleegonderrig.
(2) Nieteenstaande die voorwaardes in hierdie
regulasie voorgeskryf, kan die raad 'n skool goedkeur selfs al kan daar nie aan
al die voorwaardes voldoen word nie. Goedkeuring kan op voorwaardes wat die raad
mag bepaal, verleen word.
Toelating tot die kursus
2. 'n
Kandidaat moet aan die persoon in beheer van die skool voorlę:
(a) bewys van lopende registrasie as 'n algemene verpleegkundige (vrou)
en, tensy die raad anders bepaal, as 'n vroedvrou, of as 'n algemene
verpleegkundige (man), of as 'n psigiatriese verpleegkundige (man of vrou).
Hierdie registrasie moet dwarsdeur die voorgeskrewe tydperk vir die kursus en
totdat die uitslae van die eksamen gepubliseer word, in stand gehou word, by
versuim waarvan die tydperk van die kursus wat deurloop is vanaf die datum van
skrapping uit die register tot die datum van terugplasing, verbeur word;
(b) 'n seniorsertifikaat of 'n gelykwaardige kwalifikasie, tensy die
raad anders bepaal.
Registrasie, terugplasing, staking en
voltooiing van die kursus
3. Ingevolge die regulasies betreffende die
registers vir studente-
(a) moet 'n student om
registrasie of terugplasing op die register aansoek doen;
(b) moet die persoon in beheer van 'n skool die raad in kennis stel
indien 'n student die kursus om enige rede voor voltooiing staak, insluitende 'n
oorplasing na 'n ander skool;
(c) moet die persoon in beheer
van 'n skool die raad in kennis stel wanneer 'n student die kursus voltooi.
Duur van die kursus
4. (1) Die kursus duur minstens
een akademiese jaar van minstens tweehonderd (200) dae (diensvrydae uitgesluit).
(2) Indien 'n student van een skool na 'n ander oorskakel of die kursus
voor voltooiing staak, moet die kursus opnuut hervat word, tensy die raad anders
bepaal.
Die leergang
(Die leergang moet saam met die
direktief wat
van die raad verkrygbaar is, gelees word)
5. Opmerking:
(i) Al die vakke van die leergang moet dwarsdeur die kursus
op toegepaste vlak gedoseer word;
(ii) die etiese grondslae
van verpleging en verloskunde moet dwarsdeur die kursus beklemtoon word;
(iii) die wet wat die praktyk van verpleging en verloskunde beheer,
met inbegrip van die regulasies betreffende die gedrag van geregistreerde
verpleegkundiges wat onbetaamlik of skandelike gedrag uitmaak, die regulasies
betreffende die gedrag van geregistreerde vroedvroue wat onbetaamlik of
skandelike gedrag uitmaak en die voorwaardes waaronder hulle hul beroep mag
uitoefen, die regulasies betreffende die gedrag van ingeskrewe verpleegkundiges
wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak, die regulasies betreffende die
gedrag van ingeskrewe vroedvroue wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak
en die voorwaardes waaronder hulle hul beroep mag uitoefen, die regulasies
betreffende die gedrag van ingeskrewe verpleegassistente wat onbetaamlike of
skandelike gedrag uitmaak, en die wetgewing wat op die verskillende aspekte van
die leergang van toepassing is, moet dwarsdeur die kursus op toegepaste vlak
gedoseer word;
(iv) medies-geregtelike risiko's moet dwarsdeur
die kursus beklemtoon word;
(v)   die maatskaplike,
psigologiese, kulturele en fisiese verwantskappe in gesondheid en siekte moet
dwarsdeur die kursus beklemtoon word;
(vi)   die voorkomende,
bevorderende, kuratiewe en rehabilitatiewe aspekte moet dwarsdeur die kursus
beklemtoon word;
(vii)   die wetenskaplike beginsels
onderliggend aan verpleging en verloskunde moet dwarsdeur die kursus beklemtoon
word.
(1)   Wetenskaplike grondslae van die gemeenskapsverplegingsproses
(2)   Die administratiewe aspekte van gemeenskapsverpleging
(3)   Psigososiale en kulturele aspekte en dinamika van gemeenskapsverpleging
(4)   Gemeenskapsverpleging en die gemeenskapsverplegingsproses
Onderrig en praktika
6.   Die student moet dwarsdeur die
kursus onderrig ontvang en praktika deurloop in die vakke soos in die leergang
in regulasie 5 voorgeskryf.
Eksamens
7. (1)   Die
eksamen bestaan uit twee gedeeltes, naamlik-
(a)   'n
skriftelike gedeeltes van twee vraestelle van drie uur elk; en
(b)   'n praktiese gedeelte wat deur die verpleegskool afgeneem word.
(2)   Om tot die eksamens toegelaat te word, moet die kandidaat-
(a)   teen die einde van die maand waarin die eksamen afgeneem
word, die voorgeskrewe tydperk vir die kursus voltooi;
(b)   volgens die evaluering van die verpleegskool waar die kursus
deurloop is, ten opsigte van houding, benadering, insig, kennis en vaardighede
bevoeg en geskik wees vir toelating;
(c)   op die datum van
die eksamen aan die bepalings van regulasie 6 voldoen.
(3)   Die eksamen
word afgeneem ooreenkomstig die regulasies betreffende eksamens van die raad.
(4)   Die kursus bedoel in hierdie regulasies word vir die toepassing van
die regulasies bedoel in subregulasie (3) 'n nabasiese kursus genoem.
Registrasie van addisionele kwalifikasie
8.   Aan 'n kandidaat wat in
die eksamen geslaag het, word 'n sertifikaat van registrasie van die addisionele
kwalifikasie sonder betaling van enige gelde uitgereik: Met dien verstande dat
die kennisgewing in regulasie 3(c) voorgeskryf, ingedien is.
Toepassing van hierdie regulasies
9.   Hierdie regulasies is van
toepassing ten opsigte van alle kursusse wat na 31 Desember 1979 'n aanvang
neem.
Toepassing van regulasies
10.   Behoudens regulasie 11,
is hierdie regulasies van toepassing op alle kursusse in die Republiek van
Suid-Afrika wat tot registrasie van 'n kwalifikasie in gemeenskapsverpleegkunde
lei.
Oorgangsbepaling
11. (1)   Ondanks die bepalings
van regulasie 10 en behoudens subregulasie (2), doen hierdie regulasies geen
afbreuk nie aan die bepalings van-
(a)   die
regulasies gepubliseer kragtens die Wet op Verpleging, 1984 (Wet No. 13 van
1984) (Ciskei), by Goewermentskennisgewing No. 33 van 1987 (hierna 'die
1987-regulasies' genoem), wat tot 30 Junie 1997 van krag bly;
(b)   die regulasies gepubliseer kragtens die Wet op Gesondheids- en
Verwante Beroepe, 1985 (Wet No. 33 van 1985) (Bophuthatswana), by
Goewermentskennisgewing No. 61 van 23 Maart 1990 (hierna die '1990-regulasies'
genoem), wat tot 30 Junie 1997 van krag bly.
(2)   Ondanks die bepalings van subregulasie (1), word geen persoon na 28
Februarie 1997 toegelaat om vir 'n kursus bedoel in die 1987-regulasies en die
1990-regulasies in te skryf nie.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.