|
Goewermentskennisgewing No. R. 2418
|
2 November 1984
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende die Aanhou, Verskaffing, Toediening of
Voorskryf van Medisyne deur Geregistreerde Verpleegkundiges
Die Minister van
Gesondheid en Welsyn het, op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Raad op
Verpleging, kragtens artikel 45 van die Wet op Verpleging 1978 (Wet 50 van
1978), die regulasies in die Bylae hiervan uiteengesit, uitgevaardig.
BYLAE
1. In hierdie Bylae beteken "die Wet" die Wet op
Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), en het enige uitdrukking waaraan 'n
betekenis in die Wet toegeken is, daardie betekenis, en, tensy uit die samehang
anders blyk, beteken-
"artikel" 'n artikel van die Wet;
"gemagtigde verpleegkundige" 'n geregistreerde verpleegkundige bedoel
in artikel 38A van die Wet [Opmerking (1)];
"herverpakte vorm" 'n
verpakking van voorgeskrewe medisyne wat vooraf uit grootmaat verpak is vir die
onmiddellike gebruik deur 'n pasiënt;
"ongelyste medisyne" enige
medisyne of verwante stof wat nie gelys is in enige Bylae tot die Wet op
Medisynebeheer nie;
"voorgeskrewe medisyne" 'n medisyne of verwante
stof bedoel in regulasie 2;
"Wet op Medisynebeheer" Wet op die Beheer
van Medisyne en Verwante Stowwe, 1965 (Wet 101 van 1965).
2. 'n
Gemagtigde verpleegkundige mag, onderworpe aan die bepalings van artikel 38A en
die voorwaardes vervat in regulasie 3, die volgende aanhou en aan 'n persoon
verskaf of toedien of vir die gebruik deur 'n persoon voorskryf:
(a) 'n Ongelyste medisyne;
(b) enige medisyne of stof
gelys in Bylae 1, Bylae 2, Bylae 3 of Bylae 4 tot die Wet op Medisynebeheer.
Voorwaardes waaronder 'n gemagtigde verpleegkundige 'n
voorgeskrewe medisyne mag verskaf, toedien of voorskryf
3. 'n Gemagtigde
verpleegkundige wat 'n voorgeskrewe medisyne kragtens hierdie regulasies aan 'n
pasiënt verskaf, toedien of vir 'n pasiënt voorskryf moet-
(a) direk na sodanige verskaffing, toediening of voorskryf-
(i) die diagnose deur die verpleegkundige aangaande die pasiënt se gesondheidstoestand gemaak;
(ii) die naam,
hoeveelheid, sterkte en dosis van die medisyne verskaf, toegedien of
voorgeskryf, na gelang van die geval;
(iii) die nommer
van die Bylae van die Wet op Medisynebeheer waaronder sodanige medisyne gelys is
(indien enige);
(iv) die datum en tyd van die
verskaffing, toediening of voorskryf,
in die pasiënt se lêer of
behandelingsrekord, na gelang van die geval, inskryf, en teenoor daardie
inskrywing die datum en tyd van die inskrywing, sy naam en registrasiekategorie
in drukletters asook sy handtekening, aanbring;
(b) toesien
dat in die geval waar sodanige medisyne aan 'n pasiënt verskaf word, die
medisyne in 'n oorspronklike of in 'n herverpakte vorm is en dat die houer van
die medisyne geëtiketteer is met-
(i) die
goedgekeurde naam, hoeveelheid en sterkte van die medisyne;
(ii) die nommer van die Bylae van die Wet op Medisynebeheer (indien
enige) waaronder die medisyne gelys is;
(iii) die naam
van die pasiënt en sy lêer- of behandelingsrekordnommer na gelang van die
geval;
(iv) die dosis van die medisyne; en
(v) die adres van die instansie wat die medisyne voorsien.
Opmerking
(1). - Aandag word daarop gevestig dat ingevolge artikel 38A die
Direkteur-generaal, die betrokke direkteur van hospitaaldienste, die betrokke
mediese gesondheidsbeampte of geneesheer wat beheer voer oor 'n betrokke
organisasie wat 'n gesondheidsdiens verrig en wat deur die Direkteur-generaal in
oorlegpleging met die Suid-Afrikaanse Aptekersraad aangewys is, 'n
geregistreerde verpleegkundige moet magtig en dat hy die handeling wat so 'n
verpleegkundige kan verrig, na oorleg met die Suid-Afrikaanse Raad op
Verpleging, moet bepaal.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.