|
Goewermentskennisgewing No. R. 2176
|
19 November 1993
|
|
soos gewysig deur
|
|
|
No. R. 59
|
17 Januarie 1997
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende die Kursus wat Lei tot Inskrywing as
'n Verpleeghulp
Die Minister vir Nasionale Gesondheid en Welsyn het, op aanbeveling van die
Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, kragtens artikel 45 (1) van die Wet op
Verpleging, 1978 (Wet No. 50 van 1978), die regulasies in die Bylae hiervan
uiteengesit uitgevaardig.
BYLAE
Woordomskrywing
1. In hierdie regulasies beteken "die Wet" die Wet
op Verpleging, 1978 (Wet No. 50 van 1978), en het enige uitdrukking waaraan 'n
betekenis in die Wet geheg is, daardie betekenis en, tensy uit die samehang
anders blyk, beteken-
"akademiese jaar" 'n tydperk
van 44 weke in enige kalenderjaar;
"Algemene Verpleegkunde
I" 'n vak vir die eerste jaar voorgeskryf by Goewermentskennisgewings
Nos. R. 879 van 2 Mei 1975, soos gewysig, R. 881 van 2 Mei 1975, soos gewysig,
of R. 882 van 2 Mei 1975, soos gewysig of in regulasies gepubliseer kragtens die
Wet op Verpleging, 1984 (Wet No. 13 van 1984) (Ciskei), by
Goewermentskennisgewing No. 36 van 1987, soos gewysig;
"gedeelte" 'n gedeelte van 'n eksamen waarvoor die uitslag
in die eksamenuitslae bekendgemaak word en wat as 'n geheel afgelę word;
"kursus" 'n deur die raad goedgekeurde program van onderrig
en opleiding wat deur 'n goedgekeurde verpleegskool bedoel in regulasie 3
aangebied word en wat lei tot 'n kwalifikasie wat aan die houer daarvan die reg
verleen om hom kragtens artikel 16 van die Wet as 'n verpleeghulp te laat
inskryf;
"praktiese gedeelte" 'n gedeelte bestaande uit 'n
praktiese eksamen wat 'n mondelinge eksamen kan insluit en waarby die punte wat
in 'n stelsel van deurlopende evaluering behaal is, in berekening gebring kan
word;
"Psigiatriese Verpleegkunde I" 'n vak vir die eerste
jaar voorgeskryf in regulasies gepubliseer by Goewermentskennisgewing No. R. 880
van 1 Mei 1975, soos gewysig;
"skriftelike gedeelte" 'n
gedeelte bestaande uit een skriftelike vraestel.
Voorwaardes vir
inskrywing as 'n verpleeghulp
2. (1) 'n Persoon word kragtens
artikel 16 van die Wet as 'n verpleeghulp ingeskryf indien-
(a) Hy aan 'n goedgekeurde verpleegskool die onderrig en opleiding
bedoel in hierdie regulasies ontvang het;
(b) hy vir die duur
van die kursus bedoel in hierdie regulasies as leerlingverpleeghulp ingeskryf
was;
(c) hy die kursusdoelstellings bedoel in regulasie 6
bereik het;
(d) hy in die eksamen bedoel in regulasie 8
geslaag het of ingevolge regulasie 7 daarvan vrygestel is;
(e) die verpleegskool waar die kursus deurloop is, 'n bevredigende
rekord van sy teoretiese en kliniese onderrig by die raad indien.
(2) 'n
Kandidaat wat ingevolge regulasie 7(1) vir vrystelling kwalifiseer, word as 'n
verpleeghulp ingeskryf slegs indien die rekord en sertifikaat bedoel in
regulasie 7(1)(d), tesame met die voorgeskrewe gelde, by die raad ingedien is.
Voorwaardes vir die goedkeuring van 'n verpleegskool
3. (1) 'n Verpleegskool moet by die raad aansoek doen om 'n
kursus bedoel in hierdie regulasies aan te bied.
(2) 'n Aansoek bedoel
in subregulasie (1) word deur die raad goedgekeur indien-
(a) alle vereiste inligting deur die verpleegskool verskaf is;
(b) die organisatoriese struktuur en die fasiliteite vir die aanbieding
van die kursus volgens die mening van die raad bevredigend is;
(c) die leergang, insluitende die stelsel van deurlopende evaluering ten
opsigte van teorie en kliniese praktika, wat deur die verpleegskool voorgelę
is, volgens die mening van die raad bevredigend is;
(d) die
fasiliteite vir kliniese praktika volgens die mening van die raad bevredigend
is;
(e) die persoon in beheer van die verpleegskool 'n
geregistreerde verpleegkundige is teenoor wie se naam 'n addisionele
kwalifikasie in verpleegonderwys kragtens artikel 22 van die Wet geregistreer
is;
(f) minstens een geregistreerde verpleegkundige te alle
tye by die inrigting waar die praktiese opleiding aangebied word, op diens is;
(g) alle lede van die verpleegpersoneel wat aan die kliniese
opleiding deelneem, geregistreerde of ingeskrewe verpleegkundiges is.
(3) Ondanks die bepalings van subregulasie (2) kan die raad 'n
verpleegskool goedkeur op voorwaardes wat wesenlik ooreenstem met die vereistes
van daardie subregulasie.
Toelating tot die kursus
4. (1) 'n Kandidaat moet by die persoon in beheer van 'n
verpleegskool aansoek doen om toelating tot die kursus bedoel in hierdie
regulasies.
(2) Sodanige aansoek moet vergesel gaan van bewys dat die
kandidaat minstens in 'n akademiese standerd 8 geslaag het of in besit is van 'n
gelykwaardige opvoedkundige kwalifikasie.
Duur van kursus
5. Die kursus duur een akademiese jaar en moet binne 18 maande vanaf die
aanvangsdatum voltooi word, tensy die raad anders besluit.
Die leergang
6. (1) Kursusdoelstellings
Die leergang vir die kursus moet so opgestel word dat dit lei tot die
persoonlike en professionele ontwikkeling van 'n leerlingverpleeghulp sodat hy
by voltooiing van die kursus-
(a) die waardigheid en
waarde van die mens erken en respekteer;
(b) besef dat sosiale
en kulturele invloede en fisiese omstandighede verband hou met menslike gedrag
en gesondheid;
(c) 'n begrip het van toepaslike wetgewing en
die aspekte van die gemenereg wat op verpleging van toepassing is;
(d) die etiese en morele kodes wat verpleging beheer, aanvaar;
(e) aanvaar dat verpleging betrokke is by die mens in alle lewenstadia;
(f) in staat is om hulp te verleen met die implementering
van verpleeghandelinge vir individue of groepe as deel van die verpleegregiment
wat deur 'n geregistreerde verpleegkundige of vroedvrou beplan is,
met besondere verwysing na die basiese behoeftes van die mens;
(g) begrip het vir die plek van die ingeskrewe verpleeghulp
in die gesondheidspan wat omvattende gesondheidsorg verskaf;
(h) bereid is om met ander gesondheidspanlede saam te werk;
(i) sy verantwoordelikheid ten opsigte van die bevordering
van die liggaamlike en geestesgesondheid van die mens en die voorkoming
van liggaamlike en geestesongesteldhede by die mens erken en uitvoer.
(2) Kursusinhoud
Die kursus bestaan uit 'n vak wat uit die volgende saamgestel is:
(a) Verplegingsgeskiedenis en -etiek;
(b) basiese verpleegsorg;
(c) elementęre voeding;
(d) noodhulp;
(e) elementęre anatomie en fisiologie;
(f) inleiding tot omvattende gesondheidsorg.
(3) Kliniese opleiding
(a) Behoudens die bepalings van regulasie 7 moet 'n leerlingverpleeghulp
'n minimum van 1 000 uur kliniese opleiding ondergaan, wat oor die
volle tydperk van die kursus versprei moet word.
(b) Die kliniese opleiding bedoel in paragraaf (a) moet
praktika in die nag vir minstens een twaalfde en maar hoogstens een
kwart van die totale voorgeskrewe opleidingstydperk insluit.
(c) Ondanks die bepalings van paragraaf (b) moet 'n leerlingverpleeghulp
nie gedurende die eerste ses maande van die kursus toegewys word vir
kliniese praktika in die nag nie.
Vrystellings
7. (1) 'n Kandidaat wat gedurende die vyf jaar wat die aansoekdatum
voorafgaan, sy opleiding by 'n goedgekeurde verpleegskool gestaak
het in enige kursus wat tot registrasie as 'n verpleegkundige lei,
kan by aansoek om inskrywing as 'n verpleeghulp en by betaling van
die voorgeskrewe gelde as 'n verpleeghulp ingeskryf word indien-
(a) hy minstens een jaar van sodanige kursus voltooi het;
(b) hy in die eksamen in Algemene Verpleegkunde I of Psigiatriese
Verpleegkunde I of die ekwivalent daarvan geslaag het;
(c) hy minstens 1 000 uur kliniese praktika voltooi het;
en
(d) 'n opleidingsrekord wat vir die raad bevredigend, is
deur die verpleegskool waar die opleiding plaasgevind het, voorgelę
word, asook 'n sertifikaat van die persoon in beheer van die verpleegskool
dat die kandidaat minstens die ekwivalent van die kursusdoelstellings
bedoel in regulasie 6 bereik het.
(2) 'n Kandidaat bedoel in subregulasie (1) wat nie in die eksamen
in Algemene Verpleegkunde I of Psigiatriese Verpleegkunde I of die
ekwivalent daarvan geslaag het nie, maar wat aan die ander vereistes
van daardie subregulasie voldoen, kan vrygestel word van die volle
tydperk van die kursus, van die kliniese opleiding bedoel in regulasie 6
en van inskrywing as 'n leerlingverpleeghulp en kan hom vir die eksamen
bedoel in regulasie 9 laat inskryf sonder om verdere opleiding te
ondergaan.
(3) 'n Kandidaat wat gedurende die vyf jaar wat die aansoekdatum
voorafgaan, sy of haar opleiding by 'n goedgekeurde verpleegskool
gestaak het in 'n kursus wat tot inskrywing as 'n verpleegkundige
lei, kan by aansoek om inskrywing as 'n verpleeghulp en by betaling
van die voorgeskrewe gelde, as 'n verpleeghulp ingeskryf word indien-
(a) hy of sy minstens die eerste akademiese jaar van sodanige
kursus voltooi het;
(b) hy of sy in 'n eerstejaareksamen wat deur die raad
afgeneem word vir die kursus wat tot inskrywing as a verpleegkundige
lei, geslaag het;
(c) hy of sy minstens 1 000 uur kliniese praktika voltooi
het; en
(d) 'n opleidingsrekord wat vir die raad bevredigend is,
deur die verpleegskool waar opleiding plaasgevind het, voorgelę word,
asook 'n sertifikaat van die persoon in beheer van die verpleegskool
van die kandidaat minstens die ekwivalent van die kursusdoelstellings
bedoel in regulasie 6 bereik het.
(4) 'n Kandidaat wat gedurende die vyf jaar wat die aansoekdatum
voorafgaan, sy opleiding gestaak het in enige kursus wat tot registrasie
of inskrywing as 'n verpleegkundige lei, en wat minstens ses maande,
maar minder as een jaar, van sodanige kursus voltooi het, kan vrygestel
word van hoogstens 100 dae van die voorgeskrewe tydperk van die kursus
bedoel in hierdie regulasies en van hoogstens 500 uur van die voorgeskrewe
kliniese opleiding.
(5) Die raad kan na goeddunke ander vrystellings verleen.
Eksamens
8. (1) (a) Die vak bedoel in regulasie 6(2) word deur
die raad geëksamineer ooreenkomstig die regulasies betreffende eksamens
van die raad.
(b) Vir die toepassing van die regulasies bedoel in paragraaf (a)
word die kursus bedoel in hierdie regulasies geag 'n basiese kursus
te wees.
(2) Die eksamen bestaan uit die volgende twee gedeeltes:
(a) 'n Skriftelike gedeelte wat deur die raad afgeneem
word en wat uit een vraestel van drie uur bestaan;
(b) 'n praktiese gedeelte wat deur die verpleegskool afgeneem
word.
Vereistes vir toelating tot 'n eksamen
9. 'n Kandidaat word tot 'n eksamen toegelaat slegs indien
hy-
(a) die voorgeskrewe opleidingstydperk van die kursus nie
later nie as die einde van die maand waarin die eksamen afgeneem word,
sal voltooi;
(b) 'n jaarpunt van minstens 50% behaal het in 'n stelsel
van deurlopende evaluering bedoel in regulasie 3(2)(c);
(c) die doelstellings bedoel in regulasie 6(1) teen die
datum van die eksamen sal bereik.
Toepassing van regulasies
10. Behoudens regulasie 11, is hierdie regulasies van toepassing
op alle kursusse in die Republiek van Suid-Afrika wat tot inskrywing
as 'n verpleeghulp lei.
Oorgangsbepaling
11. (1) (a) Behoudens die bepalings van paragraaf (b) en
subregulasies (2)(a) en (3) doen hierdie regulasies geen afbreuk
nie aan die bepalings van die regulasies gepubliseer by Goewermentskennisgewing
No. R. 1571 van 21 Julie 1989, hierna die 1989-regulasies genoem,
wat tot 31 Desember 1996 van krag bly.
(b) Ondanks die bepalings van paragraaf (a) en behoudens
die bepalings van subregulasies (2)(b) en (3), doen hierdie regulasies
geen afbreuk nie aan die bepalings van die regulasies gepubliseer
kragtens die Wet op Verpleging, 1984 (Wet No. 13 van 1984) (Ciskei),
by Goewermentskennisgewing No. 67 van 10 Augustus 1990, hierna "die 1990(a)-regulasies"
genoem, of die regulasies gepubliseer kragtens die Wet op Gesondheids-
en Verwante Beroepe, 1985 (Wet No. 33 van 1985) (Bophuthatswana),
by Goewermentskennisgewing No. 46 van 23 Maart 1990, hierna "die
1990(b)-regulasies" genoem, wat tot 31 Desember 1997 van krag
bly.
(2) (a) Ondanks die bepalings van subregulasie (1)(a) en behoudens
die bepalings van paragraaf (b) word geen persoon na een jaar na die
datum van publikasie van hierdie regulasies toegelaat om hom vir 'n
kursus bedoel in die 1989-regulasies te laat inskryf nie.
(b) Ondanks die bepalings van paragraaf (a) en subregulasie 1(b),
word geen persoon na 31 Desember 1996 toegelaat om vir 'n kursus bedoel
in die 1990(a)-regulasies of die 1990(b)-regulasies in te skryf nie.
(3) Ondanks die bepalings van subregulasie (1) word die eksamens
vir die kursus bedoel in die 1989-regulasies afgeneem ooreenkomstig
die regulasies betreffende eksamens van die raad en word die kursus
vir die toepassing van die bepalings van daardie regulasies geag 'n
basiese kursus te wees.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.