|
Goewermentskennisgewing No. R. 2598
|
30 November 1984
|
|
soos gewysig deur
|
|
|
No. R. 1469
|
10 Julie 1987
|
|
No. R. 2676
|
16 November 1990
|
|
No. R. 260
|
15 Februarie 1991
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende die Bestek van Praktyk van Persone wat
Kragtens die Wet op Verpleging, 1978, Geregistreer of Ingeskryf is
Die Minister van Gesondheid en Welsyn het, op aanbeveling van die
Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, kragtens artikel 45(1)(q) van
die Wet op Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), die regulasies in die
Bylae hiervan uitgevaardig.
BYLAE
HOOFSTUK 1. - WOORDOMSKRYWINGS
1. In hierdie regulasies beteken "die Wet" die Wet
op Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), en het enige uitdrukking waaraan
'n betekenis in die Wet geheg is, daardie betekenis, en tensy uit
die samehang anders blyk, beteken-
"behandeling" die selektering en uitvoering van sodanige terapeutiese
maatreëls wat noodsaaklik is vir die doeltreffende uitvoering en bestuur
van die verpleegregimen;
"diagnosering" die identifisering van, en onderskeiding tussen
fisiese, psigiese en sosiale tekens en simptome by die mens;
"geregistreerde persoon" 'n persoon wat kragtens die Wet as
verpleegkundige of as vroedvrou geregistreer is of wat as geneesheer
of tandarts kragtens die Wet op Geneeshere, Tandartse en Aanvullende
Gesondheidsdiensberoepe, 1974 (Wet 56 van 1974), geregistreer is;
"gesondheidsbehoeftes" daardie tekens, simptome en prosesse
wat die individu se interaksie met enige werklike of potensiële gesondheidsprobleem
aandui en wat verpleegtussentrede vereis;
"kind" ook 'n ongebore kind;
"ko-ordinering" die saamsnoering van die handelinge van lede
van die gesondheidspan om te voldoen aan die spektrum van geïdentifiseerde
gesondheidsbehoeftes van 'n indiwidu of 'n groep;
"verloskunde-regimen" die regulering en implementering van
sodanige aangeleenthede wat deur verloskundige tussentrede 'n invloed
het op die verloop en hantering van swangerskap, alle stadiums van
baring en die puerperium en sluit dit die voorsiening van verpleegsorgplanne,
die implementering en evaluering daarvan en die aanteken van die verloop
van swangerskap, baring en puerperium en van enige gesondheidsprobleem
en die sorg wat deur die moeder en kind ontvang is, terwyl hulle onder
die toesig van die vroedvrou verkeer het, in;
"verpleegregimen" die regulering van sodanige aangeleenthede
wat deur verpleegtussentrede 'n invloed het op die voorkomende, bevorderende,
kuratiewe of rehabilitatiewe aspekte van gesondheidsorg en behels
dit die voorsiening van verpleegsorgplanne, die implementering en
evaluering daarvan, die aanteken van die verloop van die gesondheidsprobleem,
die gesondheidsorg wat deur 'n pasiënt ontvang is en die resultaat
daarvan terwyl 'n pasiënt in die sorg van die verpleegkundige verkeer;
"voorskryf" die gee van skriftelike aanwysings betreffende
die funksies ten opsigte van behandeling, verplegingsorg, ko-ordinering,
samewerking en pasiëntvoorspraak wat noodsaaklik is vir die doeltreffende
uitvoering en bestuur van die verpleegregimen.
HOOFSTUK 2. - DIE BESTEK VAN PRAKTYK VAN GEREGISTREERDE VERPLEEGKUNDIGES
2. Die omvang van die praktyk van 'n geregistreerde
verpleegkundige behels die volgende handelinge of prosedures wat deur middel
van wetenskaplik gefundeerde fisiese, chemiese, psigiese, sosiale,
opvoedkundige en tegnologiese metodes op gesondheidsorgpraktyk uitgevoer kan
word:
(a) Die diagnosering van 'n gesondheidsbehoefte en die
voorskryf, voorsiening en uitvoering van 'n verpleegregimen om in die
behoefte van 'n pasiënt of groep pasiënte te voorsien of, waar nodig,
deur verwysing na 'n geregistreerde persoon;
(b) die uitvoering van 'n program van behandeling of
medikasie wat deur 'n geregistreerde persoon vir 'n pasiënt voorgeskryf is;
(c) die behandeling en versorging van en toediening van
medikasie vir 'n pasiënt met inbegrip van die monitor van die vitale
tekens en reaksie op siektetoestande, trauma, spanningsdruk, angs,
medikasie en behandeling;
(d) die voorkoming van siekte en die bevordering van
gesondheid en gesinsbeplanning deur voorligting aan en beraad met indiwidue
en groepe persone;
(e) die voorskryf, bevordering of instandhouding van
higiëne, fisiese gemak en gerusstelling van die pasiënt;
(f) die bevordering van oefening, rus en slaap met die
oog op genesing en rehabilitasie van 'n pasiënt;
(g) die bevordering van liggaamsmeganika en die voorkoming
van liggaamsmisvorming by 'n pasiënt in die uitvoering van 'n verpleegregimen;
(h) die toesig oor en instandhouding van suurstofvoorsiening
aan 'n pasiënt;
(i) die toesig en instandhouding van vloeistof-, elektroliet-
en suurbasisbalans van 'n pasiënt;
(j) die bevordering van die genesing van wonde en frakture,
die beskerming van die vel en die instandhouding van sensoriese funksies
in 'n pasiënt;
(k) die bevordering van die instandhouding van liggaamsregulerende
meganismes en funksies in 'n pasiënt;
(l) die bevordering van die instandhouding van voeding van
'n pasiënt;
(m) die toesig oor en instandhouding van uitskeiding by
'n pasiënt;
(n) die bevordering van kommunikasie deur en met 'n pasiënt
in die uitvoering van 'n verpleegregimen;
(o) die bevordering van die bereiking van optimale gesondheid
vir die indiwidu, die gesin, groepe en die gemeenskap in die uitvoering
van 'n verpleegregimen;
(p) die skepping en instandhouding in die uitvoering van
'n verpleegregimen, van 'n omgewing waarin die fisiese en geestesgesondheid
van 'n pasiënt bevorder word;
(q) voorbereiding vir en bystand met operatiewe, diagnostiese
en terapeutiese behandeling van 'n pasiënt;
(r) die ko-ordinering van die program van behandeling voorsien
vir 'n pasiënt;
(s) die voorsiening van doeltreffende pasiëntvoorspraak
om die pasiënt in staat te stel om die nodige gesondheidsorg te verkry;
(t) versorging van die sterwende pasiënt en versorging
van 'n pasafgestorwene binne die uitvoering van 'n verpleegregimen.
HOOFSTUK 3 - DIE BESTEK VAN PRAKTYK VAN GEREGISTREERDE VROEDVROUE
3. Die bestek van praktyk van 'n geregistreerde
vroedvrou behels die volgende wetenskaplik gefundeerde handelinge of prosedures
van toepassing op die praktyk van verloskunde en wat verband hou met
die moeder en kind in die loop van swangerskap, baring en die puerperium:
(a) die diagnosering van 'n gesondheidsbehoefte en
die bevordering van die bereiking van optimale fisiese en geestelike
gesondheid vir die moeder en kind deur die voorskryf, verskaffing
en uitvoering van 'n verloskunde-regimen of waar nodig die verwysing
na 'n geregistreerde persoon of deur die hulp van 'n geregistreerde
persoon te verkry, soos die geval mag wees;
(b) die uitvoering van 'n program van behandeling of medikasie
wat deur 'n geregistreerde persoon voorgeksryf is;
(c) die voorkoming van siekte wat met swangerskap, baring
en die puerperium verband hou en die bevordering van gesondheid en
gesinsbeplanning deur onderrig en beraad aan individue, gesinne en
groepe persone, deur die implementering van gesinsbeplanningsvaardighede
en deur die gesondheidstatus van die moeder en kind te monitor;
(d) die monitor van-
(i) die vordering van swangerskap, baring en die puerperium;
(ii) die vitale tekens van die moeder en kind;
(iii) die reaksie van die moeder en kind op siektetoestande,
trauma, stres, angs, medikasie en behandeling;
(e) die voorkoming van komplikasies wat verband hou met
swangerskap, baring en die puekrperium, insluitende:
(i) die uitvoer van 'n episiotomie;
(ii) die hegting van eerste- en tweedegraadse skeure of
'n episiotomie;
(iii) die toediening van 'n lokale anestetikum;
(f) die toediening van medikasie aan die moeder of kind;
(g) die voorksryf, bevordering of instandhouding van higiëne,
fisiese gemak en gerusstelling van die moeder en kind;
(h) die bevordering van oefening, insluitende voorgeboorte-
en nageboorte-oefeninge, rus en slaap;
(i) die bevordering van liggaamsmeganika en die voorkoming
van liggaamsmisvorming in die uitvoering van die verloskunde-regimen;
(j) die toesig oor en instandhouding van 'n toevoer van
suurstof na die moeder en kind;
(k) die toesig oor en instandhouding van vloeistof-, elektroliet-
en suurbasisbalans van die moeder en kind;
(l) die bevordering van die genesing van wonde, die beskerming
van die vel en die instandhouding van sensoriese funksies in die moeder
en kind;
(m) die bevordering van die instandhouding van liggaamsregulerende
meganismes en funksies in die moeder en kind;
(n) die bevordering, instandhouding en, waar nodig, die
verbetering van die voedingstatus van die moeder en kind;
(o) die bevordering van borsvoeding;
(p) die toesig oor en instandhouding van uitskeiding by
die moeder en kind;
(q) die bevordering van kommunikasie deur en met die moeder
en vader of familie in die uitvoering van die verloskunde-regimen;
(r) die daarstelling en instandhouding, in die uitvoering
van die verloskunde-regimen, van 'n omgewing waarin die fisiese en
geestelike gesondheid van moeder en kind bevorder word;
(s) voorbereinding vir en bystand met operatiewe, diagnostiese
en terapeutiese handelinge vir die moeder en kind;
(t) die ko-ordinering van die gesondheidsorg-regimens wat
deur ander kategorieë gesondheidspersoneel vir die moeder en kind
voorsien word;
(u) die voorsiening van doeltreffende voorspraak om die
moeder en kind in staat te stel om die gesondheidsorg wat hulle nodig
het, te verkry;
(v) versorging van 'n sterwende pasiënt en 'n pasafgestorwe
pasiënt binne die uitvoering van die verloskunde-regimen.
HOOFSTUK 4. - DIE BESTEK VAN PRAKTYK VAN INGESKREWE VROEDVROUE
4. Die bestek van praktyk van 'n ingeskrewe vroedvrou
behels die volgende handelinge of prosedures van toepassing op die
praktyk van verloskundige verpleegkunde:
(a) Die identifisering van 'n gesondheidsbehoefte en die
bevordering van die gesondheid van die moeder en kind deur ondersoek
en adviesgewing tydens, en toesig oor en die hantering van, normale
swangerskap, ongekompliseerde baring en normale puerperium;
(b) die bevordering of instandhouding van higiëne en fisiese
gemak en die gerusstelling van die moeder en kind;
(c) die bevordering van oefening, rus en slaap;
(d) die kontrolering, bevordering en instandhouding van
die volgende by die moeder en kind:
(i) Respiratoriese funksies;
(ii) inname- en uitskeidingsfunksies;
(iii) bloeddruk, temperatuur, polsslag en fetale hart;
(e) die bevordering, instandhouding en verbetering van die
voedingstatus van die moeder en kind;
(f) die bevordering van borsvoeding;
(g) die verskaffing van gesondheids- en gesinsbeplanningsinligting;
(h) die versorging van 'n sterwende pasiënt, 'n pasafgestorwene
en 'n doodgebore baba.
HOOFSTUK 5: DIE BESTEK VAN PRAKTYK VAN INGESKREWE VERPLEEGKUNDIGES
5. Die bestek van praktyk van 'n ingeskrewe verpleegkundige behels die
volgende handelinge en prosedures as deel van die verpleegregimen wat deur
'n geregistreerde verpleegkundige of geregistreerde vroedvrou beplan en geïnisieer
is en onder sy direkte of indirekte toesig uitgevoer word:
(a) Die uitvoering van verpleegsorg om in die gesondheidsbehoeftes
van 'n pasiënt of 'n groep pasiënte te voorsien;
(b) die versorging van 'n pasiënt en die uitvoering van
'n verpleegsorgplan vir 'n pasiënt, met inbegrip van die monitor van
die vitale tekens en die waarneming van reaksies op medikasie en
behandeling;
(c) die voorkoming van siekte en die bevordering van gesondheid
en gesinsbeplanning deur middel van inligting aan indiwidue en groepe;
(d) die bevordering en instandhouding van die higiëne, fisiese
gemak en gerusstelling van 'n pasiënt;
(e) die bevordering en instandhouding van oefening, rus
en slaap met die oog op die genesing en rehabilitasie van 'n pasient;
(f) die voorkoming van fisiese misvorming en ander komplikasies
by 'n pasiënt;
(g) die toesig oor en instandhouding van suurstofvoorsiening
van 'n pasiënt;
(h) die toesig oor en instandhouding van die vloeistofbalans
van 'n pasiënt;
(i) die bevordering van die genesing van wonde en frakture,
die beskerming van die vel en die instandhouding van sensoriese funksies
by 'n pasiënt;
(j) die bevordering en instandhouding van die liggaamsregulerende
meganismes en funksies van 'n pasiënt;
(k) die voer van 'n pasiënt;
(l) die bevordering en instandhouding van uitskeiding by
'n pasiënt;
(m) die bevordering van kommunikasie deur en met 'n pasiënt
by die uitvoering van verpleegsorg;
(n) die bevordering van die bereiking van optimale gesondheid
by die individu, die gesin, groepe en die gemeenskap;
(o) die bevordering en instandhouding van 'n omgewing waarin
die fisiese en geestesgesondheid van 'n pasiënt bevorder word;
(p) die voorbereiding vir en bystand met diagnostiese en
terapeutiese handelinge deur 'n geregistreerde persoon;
(q) die voorbereiding vir en bystand met chirurgiese prosedures
onder narkose;
(r) die versorging van 'n sterwende pasiënt en 'n pasafgestorwene.
HOOFSTUK 6: DIE BESTEK VAN PRAKTYK VAN INGESKREWE VERPLEEGASSISTENTE
6. Die bestek van praktyk van 'n ingeskrewe
verpleegassistent behels die volgende handelinge en prosedures as deel
van die verpleegregimen wat deur 'n geregistreerde verpleegkundige of
geregistreerde vroedvrou beplan en geïnisieer is en onder sy direkte of
indirekte toesig uitgevoer word:
(a) Die bevordering en instandhouding van die gesondheid
van 'n pasiënt, 'n gesin en 'n gemeenskap;
(b) die voorsiening van gesondheids- en gesinsbeplanningsinligting
aan individue en groepe;
(c) die versorging van 'n pasiënt en die uitvoering van
'n verpleegsorgplan vir 'n pasiënt;
(d) die bevordering en instandhouding van die higiëne van
'n pasiënt, 'n gesin en 'n gemeenskap;
(e) die bevordering en instandhouding van die fisiese gemak,
rus, slaap, oefening en gerusstelling van 'n pasiënt;
(f) die voorkoming van fisiese misvorming en ander komplikasies
by 'n pasiënt;
(g) die toesig oor en instandhouding van suurstofvoorsiening
aan 'n pasiënt;
(h) die meet van die bloeddruk, temperatuur, pols en asemhaling
van 'n pasiënt;
(i) die bevordering en instandhouding van die liggaamsregulerende
funksies van 'n pasiënt;
(j) die bevordering van die voeding van 'n pasiënt, 'n gesin
en 'n gemeenskap;
(k) die bevordering en instandhouding van inname en uitskeiding
by 'n pasiënt;
(l) die bevordering van kommunikasie met 'n pasiënt tydens
sy versorging;
(m) die voorbereiding van individue en groepe vir die
uitvoering van diagnostiese prosedures en terapeutiese handelinge
deur 'n geregistreerde persoon;
(n) die voorbereiding vir en bystand tydens chirurgiese
prosedures onder narkose;
(o) die versorging van 'n sterwende pasiënt en 'n pasafgestorwene.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning
7977 van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer
op voorwaarde dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer
verwys. U mag NIE afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.